Leef uit jou doop: 7.2 Is oordoop regtig doop?

Leef uit jou doop: 7.2 Is oordoop regtig doop? – Adrio König

7.2 Is oordoop regtig doop?

Lidmate wat oorgedoop word, of soos die Pinksterkerke meen, vir die eerste keer gedoop word, word omtrent sonder uitsondering oorgedoop lank nadat hulle tot geloof gekom het. Teen die tyd dat hulle oorgedoop word, het hulle alreeds die volle betekenis van die doop aanvaar.

Maar is die oordoop dan nog regtig doop in die Nuwe-Testamentiese sin van die woord as dit eers bedien word lank nadat die persoon tot geloof gekom het? In die Nuwe Testament is dadelik gedoop. En dit was nie maar net toevallig nie. Dit het besondere teologiese betekenis gehad. Die doop was een van die heilsmiddels waardeur God iemand aan die heil deel gegee het (3.4). Maar as ’n persoon nou lankal deel het aan die heil, en dan eers gedoop (oorgedoop) word, watter betekenis het die doop dan? Wat die doop moes beteken, is nou lankal deel van die gelowige se lewe.

Kan die oordoop veel meer wees as ’n doopviering, ’n herdenking van wat die doop werklik beteken?

sendingbevel, “doop hulle en leer hulle” het ons verander in “leer hulle en doop hulle”.

gelukwens en die seën van die Here op hulle verdere lewe saam met Hom kon toebid.

Intussen het ons reeds die ander kant van die saak baie ernstig oorweeg: die feit dat die Pinksterkerke presies dieselfde sê van die kinderdoop: dis nie werklik ’n doop nie. Daarna het ons veral in hoofstuk 4 gekyk en in hoof stuk 5 daarop gereageer. Daar het ons gesien dat die kinderdoop aan die basie se vereistes vir die doop beantwoord. Dit vloei eintlik uit die wese van die doop in die Nuwe Testament voort.

♦   Die doop is God se werk/gawes in ons lewe. Hy kan ook aan kinders sy gawes gee.

♦   Die doop is gou bedien en die onderrig is eers later in die gemeente gegee. Die onderrig word ook in die geval van die kinderdoop eers ná die doop gegee.

♦   Die betekenis van die doop word eers ná die doop beleef. Dan moet die gedooptes wys dat hulle uit hul doop lewe. Dan moet hulle met die sonde ophou en God voluit dien omdat hulle deur die doop met Christus verbind is. Dit is net so geldig vir die kinderdoop.

♦   Die doop lyf ons in die genadeverbond in wat God met Abraham gemaak het. In hierdie verbond was daar van die begin af plek vir twee groepe: heidene soos Abraham wat eers tot geloof moes kom en daarna die geloofsakrament (die besnydenis – 3.6) ontvang het, en kinders van gelowiges wat eers die geloofsakrament ontvang het en daarna tot geloof moes kom. Op grond van Romeine 4 en Galasiërs 3 geld dit vandag nog net so.

Dit lyk my dus duidelik dat daar in die doop soos ons dit in die Nuwe Testament kry, die ruimte is vir die kinderdoop.

 

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König