Leef uit jou Doop: 8.1 Baie verskillende dope

Leef uit jou Doop: 8.1 Baie verskillende dope – Adrio König

8.1 Baie verskillende dope

Vir hierdie hoofstuk moet ’n mens jou kop laat draai. Tot sover gaan die hele boek oor die “doop”. In werklikheid gaan dit oor die Christelike doop. Maar ons het dit so vanselfsprekend geneem dat ons nie eens daaraan gedink het dat daar ook ander vorms van doop is of was nie.

In die tyd van Jesus was daar minstens drie ander vorms van doop.

♦   Die doop van Johannes die doper.

♦   Die doop van Jesus se dissipels.

♦   Die Jode se proseliete-doop.

 

Ons het alreeds aan Johannes se doop aandag gegee juis om te toon dat dit nie dieselfde was as die Christelike doop wat Jesus aan die einde van sy aardse bediening ingestel het nie (5.2). Ons lees net een keer van die doop van die dissipels van Jesus (Joh 4:1-2). Ons weet verder niks daarvan nie. En uit die geskiedenis weet ons ook die Jode het heidene gedoop wat soos hulle in die Here geglo het. Aan die einde van sy lewe op aarde stel Jesus dan ’n nuwe doop in, die doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matt 28:19). Onthou dit was terwyl daar al klaar drie ander dope in omloop was.

In hierdie hoofstuk gaan ons nou bewustelik hiermee rekening hou: daar is meer as een soort doop. Toe ons tot hiertoe van die “doop” gepraat het, het ons een spesifieke soort doop bedoel: die Christelike doop, die doop wat nog nie bestaan het tydens Jesus se aardse bediening nie, die doop wat Hy eers aan die einde instel.

Wanneer die apostels in hulle Briewe oor die “doop” skryf, en al die wonderlike betekenisse van die doop uitwerk, is dit hierdie doop, nie die ander drie nie. Daar is radikale verskille tussen hierdie Christelike doop en die ander.

♦   Nie een van die ander is bedien met die formule: “In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” nie.

♦   Nie een van die ander het mense met Christus verenig nie. Hulle kon ook nie, want hulle is bedien terwyl Jesus nog geleef het, en daarom kon hierdie dope mense nie met sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opstanding verenig het nie – een van die belangrikste betekenisse van die Christelike doop.

♦   In al drie hierdie dope het dit gegaan oor wat die mens doen, en in nie een oor dit wat God doen nie. Dus was nie een van hulle ’n sakrament nie.

 

Wat is ons gevolgtrekking? Daar is meer as een soort doop.

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König