Leiers moet respek verdien

Do ordinary things with extraordinary love – Moeder Teresa

Leiers moet respek verdien

Ons hoef nie God se guns te wen nie. God het ons lief en Hy is tevrede met ons, nie as gevolg van ons prestasies nie, maar deur sy genade. Mense is anders: as jy mense wil lei moet jy geloofwaardig wees en hulle respek verdien. Jy  moet ‘n goeie reputasie hê. Die sleutel tot ‘n goeie reputasie is karakter – jou innerlike gesindheid, jou waardes en jou optrede. Die probleem is dat baie leiers meer bekommerd oor hulle beeld as oor hulle karakter is.

 

As jy nie die respek van mense het nie, is jy nie ‘n leier nie. Rick Warrer verwys na ses karaktereienskappe van leiers. Ons kry hulle almal in Spreuke.

  • Ons verdien respek deur integriteit

Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind (Spreuke 10:9). Een van die voordele van met integriteit leef, is vertroue, want jy het niks om weg te steek nie – jy is nie bang jy word uitgevind nie.

 

  • Ons verdien respek deur nederigheid

Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val; nederigheid bring eer (Spreuke 29:23) As jy sukses wil behaal, beklee jou met nederigheid. As ons erken ons is verkeerd sal mense nie op ons neersien nie – hulle sal ons respekteer.

 

  • Ons verdien respek deur betroubaarheid

Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ‘n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie (Spreuke 25:15 – Die Boodskap) Daar is mense wat alles belowe, maar niks gebeur ooit nie. Dit is fataal vir enige leier.

 

  • Ons verdien respek deur die regte prioriteite te leef

Wie reg leef, verheerlik God. Wie na slegte dinge smag, word daardeur verwoes (Spreuke 11:27 – Die Boodskap). Diegene wat net goeie dinge wil doen, ontvang baie liefde en ondersteuning (Spreuke 14:22 – Die Boodskap). As jou prioriteite gerespekteer word, sal jy ook gerespekteer word.

 

  • Jy verdien respek deur vrygewigheid

‘n Mens wat iets vir ‘n ander oor het, baat self daarby; ‘n hartelose mens word deur sy eie toedoen verstoot (Spreuke 11:17) Mense word nie vereer vir wat hulle ontvang het nie, maar vir wat hulle gegee het; mense word nie vereer vir dit waaraan hulle vasklou nie, maar vir dit wat hulle weggee.

 

  • Ons verdien respek deur naby God te leef

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is (Spreuke 3:4 – 7) As jy God eerste in jou lewe plaas verdien jy guns by God en respek by mense.

 

Hier is ses riglyne oor hoe leiers respek kan verdien. Hierdie is die basis waarop jy respek bou. As mense jou respekteer, sal hulle jou volg.