Leierskap vanaf die podium

The Savior uses many tones of voice and many methods for the salvation of humanity – Klement van Aleksandrië

Leierskap vanaf die podium

Meeste leiers lei van die kop van die konferensietafel of van die blaaibord of van die podium – dit is waar hulle gemaklik is. Dit is vanwaar hulle verwag om hulle grootste resultate te kry. Doeltreffende leiers verkry egter resultate van baie onverwagse plekke.

Kom ons kyk na Jesus – die grootste leier van alle tye. Hoeveel het Hy nie bereik terwyl Hy “op pad” was nie. By Hom was daar geen vermorste oomblikke nie. Of Hy het dit gebruik om mense te leer of om iemand te seën of om ‘n wonderteken te doen. Hy doen nie sy bediening net by sy bestemming nie, maar ook langs die pad.

 

Scott Cochrane sê dat ons daaruit moet leer. Dit gebeur as jy ‘n spanmaat help om uit ‘n fout te leer; dit gebeur as jy ‘n tydige woord van aanmoediging praat vir iemand wie se skouers hang; dit gebeur as jy mense in die gang vir terugvoer vra; ens. Hoe gebeur dit? Hierdie “langs die pad leierskap” het vier komponente:

  • Doelbewustheid – hierdie leiers is altyd op die uitkyk vir leierskapsmomente – maak nie saak waar hulle is nie.
  • Tyd – as jy teen tien maal die spoed van klank werk, het jy nie tyd vir sulke geleenthede nie.
  • Buigsaamheid – jy moet bereid wees om ‘n ompad te neem in ‘n dag wat jy sorgvuldig beplan het as jy voordeel uit sulke geleenthede wil trek.
  • Kreatiwiteit –  jy moet kreatief kyk vir moontlike geleenthede. Soms is die geleenthede nie ooglopend nie. Jy kan ‘n roetine situasie in ‘n leierskapsgeleentheid omskep.

Die belang van leierskap by jou bestemming is ooglopend, maar moenie hierdie langs die pad geleenthede vergeet nie.