Liefde: Wat is dit? (2)

The heart has its reasons that reason knows nothing of. -Blaise Pascal, filosoof en wiskundige (1623-1662)

Liefde: Wat is dit? (2)

Hierdie klink na ‘n dom vraag – ons weet tog almal wat liefde is. Op 15 September 2007 lewer Dallas Willard ‘n referaat by die American Association of Christian Counselors se konferensie. Sy onderwerp was: Getting Love Right. Dallas Willard was Professor aan die University of Southern California’s School of Philosophy. Hy was ‘n leraar in die Southern Baptist Church. Sy bekendste werke is In Search of Guidance en the Divine Conspiracy. Met sy sterk filosofiese en sielkundige agtergrond het hy ‘n baie interessante aanslag op die  onderwerp.  Kom ons kyk na ‘n paar gedagtes uit hierdie referaat.

Paulus het baie stellings gemaak oor liefde wat die lewe van die mens bymekaar  hou. Hier is ‘n paar van sy stellings:

 

  • 1 Timoteus 1:5: Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom.
  • Romeine 13:10: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet; Galasiërs 5:14: Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Paulus sê dat om in ooreenstemming met die wet te leef nie ‘n doelwit is nie, maar ‘n neweproduk van die liefde is.
  • 1 Korintiërs 12:31 – 14:1: Veral hierdie gedeelte is van belang: die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie.

 Uit Jesus en Paulus se stellings is dit duidelik dat hierdie liefde waarvan hulle praat iets is wat ontstaan uit sekere voorafbestaande eienskappe in die mens; iets wat ‘n oriëntasie van die mens teenoor dit wat goed en reg is, vereis; dit is iets wat verbasende bonatuurlike mag ten opsigte van die goeie het as dit in die mens woon.

Met hierdie riglyne in gedagte moet ons probeer om die liefde te konseptualiseer om in Paulus se raamwerk te pas – wat is agape liefde. Dan sal ons beter verstaan wat Paulus bedoel as hy sy opdragte aan die Kolossense oor geestelike vorming afsluit deur te sê: Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind (3:14); dan sal ons verstaan wat Petrus bedoel as hy sy vooruitgang van geestelike groei afsluit met liefde onder mekaar met liefde vir alle mense (2 Petrus 1:4 – 7).

Volgende keer kyk ons na so ‘n konsep.