Loop saam met God in lyding (1)

Where reason pretends to know God, it creates a reason-God, and that always is an idol.” – Emil Brunner

Loop saam met God in lyding (1)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Ons het nou oor voorbereiding vir lyding gepraat, maar hoe kan ons lyding in die praktyk hanteer? Die fokus van mense vandag is om ons emosionele reaksies en omgewing te beheer. Vir eeue gaan die Christendom reeds dieper en hoër om aan gelowiges hulpbronne te gee om lyding te hanteer.

‘n Beeld wat dikwels in die Bybel gebruik word vir die hantering van lyding is loop – loop deur iets wat moeilik, gevaarlik en selfs potensieel dodelik is

So lees ons onder andere van:

  • Loop deur donkerte: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig (Psalm 23:4); Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op ‘n pad sonder lig (Klaagliedere 3:2).
  • Loop deur diep waters: Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het (Psalm 69:3).
  • Loop op gladde plekke: Maar wat my aangaan my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly (Psalm 73:2 OAV)

Lyding is dus iets waardeur ons moet loop. Die loop metafoor dui op vordering. Die antieke mense het geglo dat lyding iets is wat jy moet verdra sonder enige gevoel totdat dit weggaan. Vir die moderne mens is lyding soos slegte weer – vermy dit, isoleer jou daarvan totdat dit verby is.

Christene in die Bybel loop deur donkerte, diep waters en vuur. Twee belangrike sake:

  • Jy moenie jou vastrapplek verloor nie; en
  • Ons moet ook nie glo dat ons dit kan vermy nie.

Ons moet deur lyding sonder skok, verbasing, ontkenning, gegriefdheid of verlammende vrees loop. Ons moet ook deur lyding sonder oorgawe loop.

Volgende keer gaan ons na die beeld van vuur in ons hantering van lyding kyk.