Loop saam met God in lyding (4)

“It is ungodly and dangerous business to abandon the certain and revealed will of God in order to search into the hidden mysteries of God.”  – Martin Luther

Loop saam met God in lyding (4)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Wat het ek geleer? As ek in Jesus Christus glo, staan my lyding en karakter in dieselfde verhouding as vuur en goud. Daar is vier dinge wat ek wil weet:

  1. Ek wil weet wie ek is – my sterk- en swakpunte.
  2. Ek wil deernis bewys aan mense wat swaarkry.
  3. Ek wil soveel vertroue in God hê dat die teleurstellings in die lewe my nie sal onderkry nie.
  4. Ek wil wys wees aangaande die gang van die lewe.

Nie een hiervan is maklik haalbaar sonder lyding nie. Daar is geen manier om te weet wie ek werklik is voor ek getoets word nie; daar is geen manier om deernis te bewys aan mense wat ly tensy ek eers self daardeur is; daar is geen manier om te leer om waarlik op God te vertrou tensy ek nie amper verdrink het nie.

Ek leer dat God saam met my in die vuur is. Hy ken die lyding van hierdie wêreld; Hy verstaan wat ek deurgaan; Hy is naby en beskikbaar; ek kan Hom in my swaarkry vertrou. Hy loop saam met my … is ek bereid om saam met Hom te loop?

Ons het baie klem gelê op vuur wat suiwer, maar vuur kan ook verhard en verteer. Baie mense word deur lyding verhard en verteer. Hoe kan ek dit voorkom? Deur saam met Jesus Christus te loop. Hoe doen ek dit? Ek behandel God as God; ek praat met Hom; ek stort my hart teenoor Hom uit; ek sien Jesus in die vuur aan die kruis – vir my. Dan sal ek aan Hom vashou wetende dat ek soos goud gesuiwer word.

Dit beteken dat ek die evangelie moet onthou. Ek moet onthou dat Hy vir my in die vuur was; ek moet onthou hoe ek verlos word; ek moet in Hom glo. As ek sonder die evangelie in die smeltkroes kom, is dit nie moontlik om God daar te kry nie.

Maar hoe doen ek dit. Daarna gaan ons volgende keer kyk.