Lyding – Vraag

Marguerite van Niekerk vra:

Waarom laat Jesus toe dat daar so baie lyding in die wêreld is, byvoorbeeld die lyding van die Jode in die Tweede Wêreldoorlog, elke dag vandag waar duisende baie ly onder misdaad en korrupsie.

Antwoord van Prof Jan van der Watt

Marguerite van Niekerk vra waarom Jesus toelaat dat daar so baie lyding in die wêreld is byvoorbeeld die lyding van die Jode in die Tweede Wêreldoorlog, elke dag vandag waar duisende baie ly onder misdaad en korrupsie.

Die vraag waarom God lyding in die wêreld toelaat is ʼn vraag wat gelowiges van die vroegste tye af besig gehou het.

  •          Daar is gedeeltes in die Bybel, veral die OT, waar die indruk gewek word dat ʼn mens self lyding oor jouself bring deurdat jy nie regverdig genoeg is of sterk genoeg glo nie. Dele word dan aangehaal soos “God sal die regverdige seën en die onregverdige straf” (Psalm 5:13; 11:5-7; Spreuke 10:6, 16, ens.). Dus: as jy regverdig is, sal God jou seën en sal dit met jou goed gaan. Vandag nog predik sommige die idee – dit word “welvaartsteologie” genoem. Jy (die mens) is eintlik in beheer van sake – jou geloof, jou opregtheid sal God manipuleer om vir jou goed te wees. God reageer op jou en aap jou na. As goed reg loop, is dit omdat jy reg is. As dit verkeerd loop is dit jou skuld.
  •          Van die boeke in die OT stel ʼn eensydige verstaan van bogenoemde idee reg. Die boek Job probeer die vraag antwoord oor waarom dit met mense sleg gaan. Die boek Job verwerp die idee dat dit altyd die mens se skuld is. Daar kan ook ander redes voor wees. En die redes kan ʼn mens nie altyd verstaan nie. Die verhaal gaan oor Job wat regverdig is en met wie dit goed gaan. Die duiwel probeer voorgee dat Job net regverdig is omdat hy so iets uit God kan kry. As hy dit nie meer kry nie, sal hy God ook los. God dink nie so nie en laat Satan toe om alles van Job weg te neem. Job begin toe ernstig, saam met sy vriende, worstel met die vraag waarom hy so ly. Van een ding is hy seker: dit is nie omdat hy so sleg is nie. Daar moet ʼn ander rede wees en hy daag God uit om te sê waarom Hy die lyding toelaat. God verskyn dan ook aan Job, maar gee hom nie ʼn direkte antwoord nie – Hy wys vir Job die skepping en alles wat in die skepping is. So besef Job die grootheid en andersheid van God. Ons kan nie God altyd verstaan nie, want Hy is net groter as wat ons is. God is op die minste God en ons is op die meeste mense. Lees gerus Job 42:1-6 waar Job erken dat daar nie antwoorde op alles is nie. Daar is net een groot antwoord: God weet en Hy is regverdig. Glo maar net in Hom; Hy weet die beste. (Interessant genoeg het Job nooit besef dat hy eintlik vir die eer van God ly nie. Die duiwel het God mos uitgedaag en God het al sy eer op Job se skouers gesit. As Job in sy lyding sou faal, sou God verkeerd bewys word. En dit kan tog nie. So, sonder dat Job dit besef was daar baie sin in sy leiding). Die antwoord wat Job dus op die lyding gee is dat mense nie te veel vrae moet vra  nie, want hulle sal nie al die antwoorde kry nie. Net God weet.
  •          Dan is daar Openbaring (en 1 Petrus) wat vir ons vertel hoe die gelowiges swaar kry en ly. Hulle word vervolg en selfs doodgemaak. Openbaring vertel ons dan van Satan en sy trawante – die twee vreeslike diere – wat oorlog maak teen God (Openbaring 12-13). Hulle wil alles wat aan God behoort, afbreek en seermaak. Al is gelowiges dus vroom en regverdig, ons leef in ʼn gebroke wêreld waar die duiwel ons wil seermaak, byna soos ʼn vyand in ʼn oorlog. As verkeerde dinge dus met ons gebeur is dit nie noodwendig ons skuld nie. Dit kan die gevolge van die sondige wêreld wees waarin ons bly.
  •          Nou verwant aan die vorige is 1 Petrus se siening dat ons soms ly om so te wys dat ons aan God getrou sal bly. Dit is byna soos “geestelike oefening”. As ons volhard midde in die lyding, word ons nie alleen self ook geestelik opgebou nie, maar word ons volharding ook sommer die bewys vir ander dat ons in God glo (1 Petrus 4:12-19). Dit wys ook dat ons soos Christus is, want Hy het ook (onskuldig) gely (1 Petrus 3:17-18).
  •          Die Bybel sê vir ons dat daar ook nog ʼn ander rede kan wees – dit is die sonde in ons. Mense kan boos wees van binne, selfs al wil hulle nie (lees hoe Paulus dit byvoorbeeld ervaar in Romeine 7:21-24). Ons as mense is geneig tot sonde en ons moet dus die gevolge van ons sonde dra. As ek byvoorbeeld teen 250km per uur op ʼn boom afjaag kan ek nie vir God kwalik neem as daar iets gebeur nie.

Die teenwoordigheid van lyding word dus op verskillende maniere in die Bybel bespreek. Ons sal nie altyd kan verstaan waarom die dinge gebeur of waarom God dit toelaat nie. Ons moet maar net vertrou in die grootheid, regverdigheid en alwetenheid van God. Oor God se beheer, is dit soos ʼn oorlog – God het die oorlog klaar gewen, maar daar is nog klein skermutselinge wat van die kant van die duiwel kom wat niks aan die uitslag van die oorlog kan verander nie. Binnekort gaan God die vyand finaal straf, maar tot dan probeer die duiwel nog ʼn laaste paar stuiptrekkings.  

 

Outeur: Prof Jan van der Watt