Maak die mense my dissipels!

The saddest thing of all is if a human being goes through life without discovering that he needs God. – Soren Kierkegaard

 

Maak die mense my dissipels!

As Jesus praat, moet ons luister. Immers: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde (Matteus 28:18). Wat Hy sê is belangrik. As Hy dus sê: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (28:19), dan moet ons dit doen.

 

Die vraag is egter: Wat beteken dit om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees? As ons dissipels moet maak, moet ons immers weet wat dit is. ‘n Dissipel is ‘n volgeling of leerling. Dit verwys na iemand wat die weg van ‘n ander volg. ‘n Dissipel is dus iemand wat by Jesus leer om soos Hy te leef. In die evangelies kry ons ‘n portret van Jesus se lewe. Dit is waar ons moet begin as ons wil weet wat ‘n dissipel is. In die Johannes-evangelie kry ons drie perspektiewe wat mekaar aanvul oor wat dit beteken om Jesus te volg. Kom ons kyk na hierdie drie perspektiewe.

 

  • ‘n Dissipel van Jesus is ‘n aanbidder

Om Jesus te volg, beteken dat ek Hom alleen aanbid. Dit was die hart van Jesus se bediening op aarde. Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid (4:23 – 24). Soos Jesus hier vir die Samaritaanse vrou gesê het, moet ons Hom aanbid as ons Hom wil volg. Maar Hy soek ware en nie vals aanbidders nie.

 

Hierdie is die fundamentele perspektief van ‘n dissipel. Maar om ‘n eksklusiewe aanbidder van Jesus te wees, is iets wat ons huidige samelewing irriteer. Mense aanvaar Jesus, maar aanvaar nie sy eksklusiwiteit nie. Ja, Hy is ‘n morele Leermeester, ‘n Profeet, ens, maar nie eksklusief nie. Hierdie siening van Jesus is mensgemaak en nie soos ons Hom in die evangelies leer ken nie. Om Jesus te volg, beteken nie gemeenskapsbetrokkenheid en verdraagsaamheid nie. Dit beteken om Hom met blydskap in ons harte te aanbid. Om dissipels van Jesus te maak, beteken dat ons sy aanbidders bymekaar maak.

 

  • ‘n Dissipel van Jesus is ‘n dienaar

Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het (13:5). Dit klink nie reg vir ons nie – Hy is immers die voorwerp van ons eksklusiewe aanbidding. Maar dan sê Hy vir Petrus: As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie (13:8). Jesus is ‘n dienaar. Hy het na die aarde gekom om te dien en nie om gedien te word nie.

 

Jesus sê dan vir sy dissipels: As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen (13:14 – 15). Later in dieselfde hoofstuk gee Jesus aan sy dissipels ‘n nuwe gebod: Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (13:34 – 35). Hierdie liefde wat dissipels vir mekaar het, onderskei ons as ware dissipels van God.

 

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, beteken om soos Hy te dien. Liefdesoptredes is ‘n kenmerk van Jesus se dissipels – al beteken dit dat ek myself verontrief. Om dissipels vir Jesus  te maak beteken om dienaars wat mekaar liefhet, te maak.

 

  • ‘n Dissipel moet van Jesus getuig

Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur (17:18). Dit beteken Jesus se dissipels is op ‘n sending – hulle is sendelinge. Hulle is bemagtig om in die wêreld as sy getuies op te tree. Jesus is met ‘n doel na die aarde gestuur: om God te openbaar en sondaars te verlos. Ons as sy dissipels en gevul met die Heilige Gees is ook met ‘n doel gestuur: om die Goeie Nuus te vertel.

 

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, beteken dat ons mense op Hom rig. Dit beteken om die ou verhaal te vertel – die verhaal van Jesus en sy liefde sodat ander Hom kan leer ken en aanbid. ‘n Dissipel van Jesus maak dissipels vir Jesus.

 

As Jesus praat luister ons.