Meer as genoeg

The best theology refuses to be innovative. – A.J. Swoboda

Meer as genoeg

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Die eerste verse van die Hebreër-boek dek die tafel vir die hele boek – Hebreërs 1:1 – 4:

 

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,

maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.  God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.  Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.  Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.  Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

In vers 1 – 2 kry ons ‘n aantal kontraste. Een is die verlede teenoor hierdie laaste dae. Dit beteken ons het ‘n nuwe tydperk ingegaan – die tydperk van die Heilige Gees. Die dood en opstanding van Jesus het hierdie nuwe tyd ingelei. Omdat geen verdere verlossingsoptrede meer nodig is nie, het ons nou die laaste dae betree. Daar is ook ander kontraste:

  • Ontvangers: in die verlede is met ons vaders gepraat, maar nou praat Hy met ons.
  • Agente: vantevore het God deur die profete gepraat, maar tans deur sy Seun. Jesus Christus openbaar wie God is, leer ons wat sy wil is en wys vir ons die pad van verlossing.
  • Paaie: in die verlede praat God deur visioene, drome, stemme, skrif op die muur, ‘n vuurkolom, ens. Nou praat God op net een manier – deur Jesus Christus.

Hier het ons vier kontraste, maar net een gevolgtrekking. Jesus Christus is die finale  agent van God se openbaring en verlossing. In hierdie verse maak die skrywer van Psalm 2 en 110 gebruik.

  •  God maak Jesus Christus erfgenaam van alles. Alles begin en eindig by Hom.
  • Jesus is die Skepper van alles. God het deur sy Seun alles geskep.
  • Jesus Christus onderhou alles.
  • Jesus Christus is die openbaring van God – Hy is die ewebeeld van die wese van God. Jesus wys vir ons God soos Hy werklik is.
  • Jesus Christus bewerkstellig die reiniging van sondes
  • Jesus Christus sit aan die regterhand van God, want Hy het sy werk op aarde voltooi.
  • Jesus Christus is verhewe bo die engele. God het sy finale woord deur Jesus gepraat. Daar kom niemand na Hom nie.

Praat God nog met ons? Ja, deur sy Seun. God praat met ons – direk en persoonlik. In Christ God’s revelation has been completed (Herman Bavinck). Die woord van God is voldoende; dit wat Jesus Christus gedoen het, is voldoende.

Hoekom is dit belangrik dat God se woord voldoende is? Watter verskil maak dit aan my lewe?

  • Tradisie word op sy plek gehou. Natuurlik het tradisie ‘n plek in ons verstaan van God se woord en om die kerk se leer te formuleer. Ons moet leer uit die lesse van die verlede en uit die belydenisgeskrifte. Al hierdie dinge het net waarde as hulle opsom wat reeds in die Skrif gesê word. Geen mensgemaakte teks kan God se woord vervang nie – die Skrif is die finale gesag. Alles moet teen God se woord getoets word. Tradisie speel slegs ‘n ondersteunende rol.
  • Ons mag nie byvoeg of wegneem wat in die woord van God staan nie. Ons kan nie die Skrif beter of veiliger of in ooreenstemming met ons aannames maak nie.
  • Die woord van God is relevant vir ons lewe. Dit beteken nie die Bybel vertel vir ons alles van alles nie, maar die Bybel vertel vir ons alles wat ons moet weet – van dit wat werklik saak maak.
  • Die woord van God nooi ons uit om die Skrif oop te maak en die stem van God daarin te hoor.

Volgende keer kyk ons na die tweede eienskap van God se woord: God se woord is duidelik.