Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

 

Ons kyk nou na die verskillende maniere waarop redding in die sinoptiese evangelies beskryf word.

  1. Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom!

Hoewel elkeen van die drie sinoptiese evangelies ook sy eie klem dra, gaan sekere punte van ooreenstemming as basis vir die beskrywing hier dien.

As die tema vir Jesus se prediking gegee word, word dit in terme van redding gestel: ‘Hy (Jesus) het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”’ (Mk 1:15). Ons het reeds in die eerste hoofstuk gesien waarom mense hulle moes bekeer  en die redes gaan daarom nie hier herhaal word nie. Die feit van die saak is dat dit nodig was vir die mense om ‘n ommekeer te maak, hul lewens in ‘n ander rigting te oriënteer. Wat het agter hierdie boodskap en oproep van Jesus gelê?

  1. a) Die Ou Testament het voorspel… en dit gebeur!

Die tyd het inderdaad aangebreek (Mk 1:15), God het naby gekom. Die Joodse geskrifte het dit voorsien. Die getuienis uit die Ou Testament vorm ‘n belangrike raamwerk waarbinne die reddingswerk van Jesus ontvou word. Bowendien dien die Ou-Testamentiese beloftes as bevestiging dat God aan die werk is in dit wat Jesus doen. Dit is die God van die Ou Testament wat in Jesus na sy volk toe kom en sy reddingsplan in Hom ontvou; Hy is en bly die bron van die redding.

Matteus en Markus lê klem daarop dat die Ou-Testamentiese beloftes dat God na Sion sal terugkeer en sy mense so sal red, op ‘n besondere manier in Jesus waar gemaak word. Soos ‘n nuwe Moses kom Jesus uit Egipte (Matt 2:19-23) na die volk toe en praat met hulle soos Moses van die berg af oor die verwagtinge wat God van hulle het as mense van sy koninkryk (Matt 5-7). So word die geboorte van Jesus in Matteus 1:22-23 direk met die vervulling van die Skrif in verband gebring:

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: 23“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring,en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Ook in Lukas lees ons van die lang geskiedenis van God met sy volk waarin daar ook beloftes oor die redding gemaak is (Luk 1:13-17; 2:9-14). Jesus self verwys daarna as Hy vir die Emmausgangers sê:

44Daarna sê Jesus vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” (Luk 24:44; sien ook 24:25-26).

 Jesus verduidelik dan self vir hulle watter fasette van sy lewe deur die Skrifte in die vooruitsig gestel is: 45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ (Luk 24:45-47).

 Die rol van hierdie aanhalings uit die Ou Testament was vir die vroeë Christene belangrik. Vir gelowiges vandag is dit ‘n uitgemaakte saak dat Jesus die Messias is, maar vir die mense wat saam met Jesus geleef het, was dit nie so vanselfsprekend nie. Ons lees dat daar verskeie persone beweer het dat hulle die verwagte Messias was. Hoe moes mense weet? Hulle het veral twee maatstawwe gehad:

  1. As iemand die messias was, moes hy God aan sy kant gehad het en dit moes duidelik word uit die bo-menslike dinge wat hy kan doen, met ander woorde, die krag van God moes deur hom sigbaar word. Dit het Jesus natuurlik gewys toe Hy siekes gesond gemaak het en duiwels uitgedryf het.
  2. Om as die messias te kwalifiseer moes die persoon binne die ewige plan van God inpas. Die plan sien ons reeds uitgespel in die Ou Testament waar God deur sy profete oor sy planne praat. Jesus moes dus binne hierdie planne inpas en het ook. Om dit te bewys word uit die Ou Testament aangehaal, om te wys hoe Jesus binne die planne inpas en die planne inderdaad verder laat ontplooi.

As Jesus dus aan die Emmausgangers die Skrifte verduidelik, toon Hy daarmee aan dat God se planne in Hom hul voortgang het. Dit is nie altyd duidelik waarna daar verwys word as daar gesê word dat die Skrifte Jesus se dood en opstanding voorspel het nie. ‘n Messias wat sou sterf was nie eintlik wat verwag is nie. Van die min, maar belangrike dele wat hiervoor kwalifiseer is Jesaja 53 waar daar oor die lydende kneg gepraat word.

Lukas gee ‘n goeie voorbeeld van hoe Jesus in die geskiedenis van Israel ingepas het. Geïnspireer deur die Heilige Gees sê Sagaria, Johannes die Doper se pa: Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 69’n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. 70So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: 71om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; 72om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou. 73Met ’n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, 74gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien 75in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe. (Luk 1:68-75). Uit die woorde is dit duidelik dat die God van Israel weer sy mense opgesoek het en sy belofte by monde van die heilige profete dat ‘n nasaat van die top koning van Israel, Dawid, weer sal kom regeer, gehou het. Hy het sy verbond met Abraham nie gebreek nie en hulle kom red van hulle vyande. Om dus die betekenis van die koms van Jesus reg te verstaan moet Hy ingebed word in hierdie geskiedenis. As Hy kom, is Hy die uitloper van hierdie geskiedenis van God met sy volk.

Die verwysings na die Ou-Testamentiese geskiedenis het natuurlik nie alleen in die sinoptiese evangelies ‘n belangrike rol gespeel nie, maar ook in die ander boeke van die Nuwe Testament. Johannes sê byvoorbeeld dat Moses van Jesus geskryf het en dat die Skrifte van Jesus getuig (Joh 5:39, 46-47). Petrus stel dit nog sterker in 1 Pet 1:10-11: 10In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word… 12Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle…

 Jesus en sy boodskap word dus deur die verwysings na die Ou-Testament aan God se reddingsplan verbind. Jesus is inderdaad deel van God se geskiedenis (Luk 1:47; 3:20).

In die volgende artikel sal ons sien dat met Jesus se koms die koninkryk van God naby gekom het.