Mense en Redding: Inleiding (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Na ‘n algemene inleiding gaan ons kyk hoe verskillende skrywers redding benader. Ons gaan kyk na:

  • Die Sinoptiese evangelies
  • Die Johannese geskrifte
  • Paulus se briewe
  • Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament.

Die reeks word afgesluit met ‘n aantal artikels oor sonde.

Die Bybel gaan van die begin af oor God en sy verhouding met mense. Soos ons uit die Ou Testament weet, is dit ‘n kleurvolle geskiedenis waar die verhouding telkens in die slag bly vanweë die ongehoorsaamheid en afvalligheid van die mense. Tog leer ons ‘n genadige God ken wat telkens sy hand weer na sy volk toe uitsteek. Hosea 11:7-9 dring tot die kern van die saak deur:

7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, ’n juk wat nie afgegooi sal word nie! 8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel?… Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

 God laat nie sy mense los nie. Hy is telkens weer die een wat ‘n nuwe plan maak. Dit lees ons ook in die laaste verse van die Ou Testament wat met ‘n belofte van redding eindig (Maleagi 4:5-6).

5Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag.6Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.

Juis daaroor gaan die Nuwe Testament, oor God se goeie nuus vir die wêreld, sy nuwe plan om sy mense van die sonde en hulle eie swakheid te red en hulle verhouding met Hom te herstel. In die plan staan Jesus natuurlik sentraal. Hierdie verhaal van God se redding word tegnies ‘soteriologie’ genoem (afgelei van die Griekse woorde sōtēr = redder en logos = woord/leer).

In die volgende artikel gaan ons na enkele algemene opmerkings kyk voordat ons die besonderhede van hierdie verlossingsplan in meer besonderhede bespreek.