Mense en Redding: Inleiding (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Voordat daar verder in meer detail in hierdie plan van verlossing ingegaan word, is enkele algemene opmerkings eers nodig.

  • Waaroor praat ons presies as ons oor soteriologie (redding) praat? Ons kan natuurlik konsentreer op die oomblik van redding, wanneer ‘n persoon se lewe van ‘n negatiewe na ‘n positiewe situasie verander word. Woorde soos genesing, bekering of wedergeboorte word byvoorbeeld vir die oomblik van omkeer gebruik. Ons kan egter ook praat oor die gevolge van die oomblik van verandering, met ander woorde, die nuwe lewe wat mens kry, versoening wat mens voortaan in vrede laat leef. Dan sluit soteriologie veel meer in as bloot die oomblik wanneer mens uit die negatiewe situasie gered word. ‘n Mens se hele lewe word dan eintlik deel van soteriologie, want jy is ‘n geredde mens. Wat vir gelowiges in die toekoms wag, kan ook as deel van soteriologie gesien word – die nuwe Jerusalem, Jesus wat ons finaal uit hierdie verganklike wêreld kom red.

Ons gaan in hierdie gedeelte meer klem laat val op die oomblik van verandering, hoewel die ander fasette nie uitgesluit gaan word nie.

  • Die Nuwe Testament bestaan uit ‘n verskeidenheid boeke wat aan verskillende groepe vir verskillende redes oor ‘n periode van sestig jaar geskryf is. In die verskillende boeke van die Nuwe Testament word daar dus op verskillende maniere oor die maniere waarop mense se lewens verander word, gepraat. Die een skrywer praat van wedergeboorte, die ander een van versoening of loskoping, die ander een van navolging. Die verskillende beskrywings mag nie sommer net deurmekaar gegooi word nie. Byvoorbeeld, (weder)geboorte is deel van ‘n groter beeldkompleks waar geboorte lei tot nuwe (ewige) lewe, wat veronderstel dat mens as deel van God se familie leef. Net Johannes en Petrus maak werklik van die uitdrukking gebruik. Regverdigmaking het weer met regspraak deur ‘n regter te doen. Dit gaan oor skuld wat vrygespreek moet word. Die beeld wat gebruik word om te beskryf wat gebeur is dus heeltemal anders en Paulus is veral lief om die beskrywing te gebruik. ‘n Mens moet dus versigtig wees om nie sommer wat Johannes sê met Paulus se beskrywings te vermeng nie. Daarom gaan die bespreking van die soteriologie hier die verskillende boeke of groepe boeke van die Nuwe Testament bietjie uitmekaar hou en afsonderlik bespreek. Daar gaan egter nie op al die detail gekonsentreer word nie, maar tog probeer word om die hooflyne van hoe die verskillende skrywers oor redding gedink het, te beskryf.
  • Die idee moet nie ontstaan dat die skrywers van die Nuwe Testament heeltemal van mekaar verskil het en elkeen sy eie kop gevolg het nie. Hulle was immers deel van dieselfde Christelike tradisie. Hulle het gevolglik sekere breë sienings oor die redding van die mens gedeel – ‘n mens kan praat van ‘n “meesterverhaal” wat basies deel was van elke skrywer se denke.

Die skrywers van die Nuwe Testament gaan uit van ‘n negatiewe beeld oor die mens opsigself. Die mens verkeer in ‘n negatiewe situasie omdat daar geen verhouding met God bestaan nie. Hulle vervreemding van God is duidelik uit die manier waarop hulle teenoor God, hulleself en ander optree (sien Rom 1-3:20). Hulle is vasgevang in hulle sondige situasie. Mense kan hulleself nie uit hierdie negatiewe situasie red nie, wat natuurlik om redding ‘van buite’ vra.

Dit is waar die genadige en liefdevolle God in aksie kom. Deur Jesus skep God die geleentheid vir mense om in ‘n verhouding met Hom te tree. Dit vind deur geloof in Jesus plaas. Deur sy dade en boodskap bemiddel Jesus die redding aan mense wat glo. Die nuwe verhouding wat tot stand kom tussen God en die gelowige kom neer op ‘n proses van hersosialisering waar die gelowige binne die raamwerk van God se koninkryk of familie nuwe lewensmoontlikhede kry en nuut kan leef. So verkry die gelowige ook die hoop op ‘n ewige toekoms saam met God en Jesus, soos Openbaring sê, in die nuwe Jerusalem. Intussen word van die gelowige verwag om volgens die wil van God in lojaliteit en gehoorsaamheid te leef.

 In die volgende artikel gaan ons begin kyk na hoe die sinoptiese evangelies redding beskryf.