Mense en Redding: Paulus (4) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die kruis en opstanding van Jesus vorm die sentrale fokus van wat Jesus gedoen het om mense te red. Daarom sê Paulus: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:2). In die konteks van 1 Korintiërs 1-2 verduidelik Paulus dat nie die Jode of die Grieke die evangelie wou glo nie, omdat dit net nie vir hulle sin maak dat ‘n verlosser aan die kruis moet sterf nie. Dit strook nie met menslike wysheid en verwagtings nie. Paulus verduidelik dat die kruis die wysheid van God en nie van mense is nie (1 Kor 1:18): Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Die rede sien ons natuurlik in 1 Korintiërs 15 waar die opstanding van Jesus bespreek word. Omdat Jesus deur die krag van God opgestaan het, het ons ook die hoop op die opstanding en ewige verheerlikte lewe.

Dat Paulus en die ander skrywers van die Nuwe Testament geweier het om die kruisgebeure en dood van Jesus te ontken, maar dit liewer die sentrum van hulle verkondiging gemaak het, spreek boekdele vir die feit dat Jesus werklik gekruisig is. Kyk hoe sterk stel Paulus dit (Gal 6:14) Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Dit is ondenkbaar dat mense dit sou versin of uitdink. Nee, hulle het die feit aanvaar en dit op verskillende maniere teologies verwerk. Lukas, byvoorbeeld, vertel van die dood van Jesus in sy Evangelie, maar verbind dit nie eintlik sterk aan die reddingsproses nie; Johannes lê meer klem op die openbaringsfunksie van die kruis, terwyl Hebreërs die kruis in verskillende Joodse beelde verduidelik. Vir Paulus staan die kruis, waarvan die opstanding deel is, sentraal.

Een van die opvallendste maniere waarop Paulus die kruis en opstanding gebruik is om die proses van sterf en opstaan op die gelowiges toe te pas. Die gedagte is dat as iemand sterf en begrawe word, daardie bestaan beeïndig is. Dit is klaar en weg. As mens dan opstaan is dit ‘n nuwe mens met nuwe lewe. Om op te staan gebeur egter nie outomaties nie, maar deur die krag van God. Paulus verduidelik met behulp van die gebeure wat met gelowiges gebeur. Hulle sterf en word begrawe, met ander woorde, die ‘ou mens’ is dood en weg. In en saam met Christus staan hulle egter weer op in ‘n nuwe lewe saam met God. Wat van die ou lewe geld, geld nou nie meer nie; die gelowige moet nou nuut lewe, volgens sy of haar nuwe identiteit. Paulus verbind dit veral met die doop van gelowiges. Kyk hoe ontwikkel Paulus die gedagte in Romeine 6:4-11: Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie…Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe… Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. (lees ook Kol 2:9-15; 2:20-3:4).

Paulus gebruik veral die idee dat ons ‘in Christus’ is; dit is nie so maklik om die begip presies te verduidelik nie, maar dit hang saam met die intieme relasie tussen Jesus en die gelowige wat tot stand kom waardeur wat van Jesus waar is, van die gelowige ook waar word. In die antieke tyd was die mense groepsmense wat beteken het dat hulle hul identiteit van die groep gekry het. Individualisme was dus tot die minimum beperk. Wat van jou groep geld, geld ook van jou. Daarom kan Paulus sê dat wat van Jesus geld, ook geld van die mense wat in hom glo.

Die kruis lei dus tot die opstanding waardeur die nuwe lewe saam met God moontlik word. In 1 Korintiërs 15 word die opstanding van Jesus in detail bespreek. As Hy nie opgestaan het nie, sou daar ook vir gelowiges geen vooruitsig gewees het vir opstanding nie. Jesus het die werklikheid van die lewe na die dood geïllustreer deur self op te staan. Deur die krag van God is Hy opgewek en ons kan op daardie selfde krag staatmaak (Ef 1:19-22). Die punt sal verder aandag ontvang by die bespreking oor die toekomsverwagtings van gelowiges. Tog moet ons ‘n oomblik stilstaan by die belang van die dood as mag waaruit die mens gered moet word. Daarin speel die opstanding ‘n belangrike rol.  Daarna kyk ons volgende keer.