Mense en Redding: Paulus (6) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Nog ‘n beeld wat hierby aansluit, vind ons in Kol 2:14: Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Die skuldbewys waarvan hier gepraat word, werk baie soos vandag se rekeninge. As jy iets by iemand koop of leen, teken jy ‘n dokument waarop staan wat jy die ander persoon skuld, ‘n soort van ‘n kontrak. As jy nie jou skuld betaal nie, kon die persoon aan wie jy die geld skuld, jou voor die hof daag en jou selfs in die tronk laat gooi (ons lees so iets in Matt 18:28-30 waar die amptenaar wat nou net deur die koning van ‘n klomp skuld vrygespreek is, nie sy mede-amptenaar sy skuld wou vryskeld nie en hom in die tronk laat gooi het). Jesus het die gelowige se skuldbewyse egter weggevat en aan die kruis laat spyker – ‘n metafoor om te sê dat die prys wat volgens die skuldbewys betaal moes word, aan die kruis betaal is. As die gelowige dus in die hof verskyn skuld hy of sy niks, want daar is geen skuldbewys nie. Hierdie beeld beklemtoon dus dat gelowiges nie hoef te bekommer oor skuld voor God nie. Jesus het die skuld weggeneem en gelowiges kan nou met reg voor God staan as mense sonder skuld.

‘n Ander beeld wat deur Paulus gebruik word, gaan oor versoening tussen persone. As die verhouding tussen twee persone in Paulus se wêreld ten gronde gegaan het, was daar maniere om die verhouding weer te herstel, of ten minste te probeer herstel. Laat ons ‘n eenvoudige voorbeeld neem. Veronderstel een persoon kul ‘n ander in ‘n transaksie met 20 skape. Dit laat die verhouding op die rotse loop. Hulle is effektief nou vyande van mekaar. Hoe gaan mens nou die verhouding regstel? Die twee persone sal nie met mekaar wil praat nie. Nou word ‘n derde persoon as bemiddelaar ingeroep. Hy staan tussen die twee partye en onderhandel deur met beide partye te praat. By die persoon wat gekul is, hoor hy wat die persoon verwag om alles weer reg te stel. Die een wat die ander persoon gekul het, probeer hy oortuig om vergoeding te betaal. So onderhandel hy of sy met die twee partye om uiteindelik die verhouding weer te herstel, of om die twee weer te versoen. Dit sien Paulus as die rol van Jesus as die een wat versoening bewerk, natuurlik met God as die een wat die inisiatief geneem het. Hy het tussen die mens en God kom staan en die verhouding herstel (Kol 1:22-23): Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. Paulus bespreek dit ook in 2 Kor 5:18-21: Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen… Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie… (lees ook Rom 3:25-26; 5:11). Die klem in die beeld val op die verhouding tussen God en die gelowiges wat herstel is en die vrede wat gekom het. Nou kan die verhouding weer normaal ontwikkel.

Die beelde kan ook in kombinasie gebruik word. In Rom 3:25-26 gebruik Paulus verskeie van die beelde so saam: Hom (= Jesus) het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. Vir Paulus het Jesus se dood as offer vergifnis, versoening (vryspraak) en regverdigmaking (vers 24) aan die gang gesit. Dit belemtoon die versklillende fasette van die proses – elke beeld wil ‘n ander aspek van die reddingsproses beklemtoon.

Volgende keer kyk ons verder na Paulus se gebruik van beelde.