Mense en Redding: Paulus (8) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die gedagte van koninkryke en magte wat in stryd met mekaar staan, was natuurlik deel van die wêreld van destyds (soos op ‘n ander manier vandag ook). Paulus sluit daarby aan as jy verduidelik wat gebeur as mense gered word (Kol 1:12-13). So kry ons beelde wat verband hou met die stryd. Daar is die beeld van die triomftog (Kol 2:15; lees ook Ef 4:8): Hy (= Jesus) het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. Die beeld dui op die oorwinning wat Jesus oor al die magte wat mense bedreig behaal het. Hulle is nie meer ‘n bedreiging vir gelowiges nie, met ander woorde, gelowiges is verlos daarvan. ‘n Triomftog is gewoonlik gehou as die generaal of koning na sy stad met alles wat hy buit gemaak het terugkeer. Dan kan mense aan dit wat hy saambring sien dat hy werklik gewen het en hoe groot die oorwinning was. Jesus het die magte gewen (ontwapen) en hulle is nou gevangenis in sy triomftog – so kan almal sien dat Jesus gewen het.

Om te beskryf dat geredde gelowiges ‘n heeltemal nuwe bestaan kry, sê Paulus dat gelowiges nuut geskep word. God is die skepper en daarom kan Hy nuut skep (2 Kor 5:17): Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. Die 1983 vertaling praat van ‘n nuwe mens, maar die Griekse woord ktisis verwys na die skeppingsaksie. God skep nuut, daarom is alles vir die persoon nuut.

Uit hierdie beskrywing is dit duidelik dat Paulus ‘n wye verskeidenheid beelde gebruik om verskillende aspekte van redding mee te beskryf. As hy die nuutheid van die gelowige wil beskryf, is die mens ‘n nuwe skepping, as hy wil sê die gelowige is sonder skuld voor God praat hy van ‘n hofsaak waarin mense vrygespreek is; as hy wil beklemtoon dat daar vrede tussen God en gelowiges is, gebruik hy die beeld van versoening, en so aan. Die belangrikste manier waarop Paulus die verskillende fasette van redding bespreek is dus by wyse van verskillende beelde uit die alledaagse lewe.

Dit mag ‘n vraag wees, wanneer vind die redding nou presies plaas, want gelowiges is nog steeds in die wêreld en doen nog steeds sonde, ervaar nog steeds die stryd met die bose… waar is die redding? Paulus verduidelik dit volgens ‘n sisteem wat in die teologie ‘reeds-nog nie’ genoem word. Die redding is reeds daar. In die oë van God is ons reeds sy kinders, is ons vrygespreek in Christus, is ons skuldbrief teen die kruis vasgespyker. Deur ons geloof in Jesus is ons gered en niks kan ons van die liefde van God en Jesus skei nie. Inderdaad, as God vir ons is, wie kan teen ons wees? (Rom 8:31-39). MAAR, ons lewe tog nog in die wêreld met al sy versoekings. Op die vlak van die alledaagse lewe, die etiek, lyk dinge tog anders. Daar duur die stryd nog voort en het die redding nog nie volledig deurgebreek nie. Daar word verwag dat ons soos geredde mense sal optree, maar dit gebeur nie altyd nie – vandaar die ‘reeds-nog nie’ (Rom 13:11-14). Die finale voltooiing van die redding vind eers plaas met die wederkoms van Jesus (Rom 5:9; 14:10-12; 1 Kor 1:7-8; 15:1-58; Phil 3:10-11).

Ons is nou klaar met Paulus se beskrywing van redding. Volgende keer begin ons kyk na die beskrywing van redding in Hebreërs en ander Nuwe Testamentiese briewe.