Mense in die Bybel: Barnabas

Mense in die Bybel: Barnabas – Coen Slabber

Van Barnabas lees ons net in Handelinge en in Paulus se briewe. [Handelinge 4:36 – 37; 9:27 – 15:39; 1 Korintiërs 9:6; Galasiërs 2: 1, 9; Kolossense 4:10]. Die apokriewe Brief van Barnabas dateer uit die middel van die tweede eeu en is nie deur Barnabas geskryf nie. Die apokriewe Handelinge van Barnabas dateer uit die vyfde eeu. Dit bevat nie betroubare inligting oor Barnabas nie. Tertullianus het geglo dat Barnabas die skrywer van die Brief aan die Hebreërs was, maar dit word nie meer aanvaar nie.

Barnabas was waarskynlik ‘n vroeë bekeerling tot die Christelike geloof in die gemeente in Jerusalem. Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee (Handelinge 4:36 – 37). Hy was ‘n Jood wat in Siprus gebore is. Omdat hy ‘n Leviet was, het hy baie in Jerusalem en die tempeldiens belanggestel. Hy het waarskynlik later in Jerusalem gewoon en is kort na Jesus se opstanding bekeer – moontlik deur die prediking van die apostels.

Saulus het na sy bekering na Jerusalem toe teruggekeer. Hy probeer by die volgeling van Jesus aansluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy ‘n volgeling van Jesus is nie. Dan lees ons: Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het die apostels oortuig dat Saulus werklik ‘n ontmoeting met die Here gehad het en dat hy werklik bekeer is. ‘n Mens kan maar net wonder wat sou gebeur het as Barnabas nie vir Saulus ingetree het nie.

Na die dood van Stefanus verskerp die vervolging van die Christene. Die gevolg is dat die gelowiges uitmekaar gejaag en verstrooi word oor die gebiede van Judea en Samaria (Handelinge 8:1 – 8). Die apostels het in Jerusalem agtergebly. Waarskynlik het Barnabas ook in Jerusalem agtergebly.

Een van die plekke waar hierdie verstrooide gelowiges hulle gevestig het, was in Antiogië. Die gemeente in Jerusalem het hiervan gehoor  en hulle het vir Barnabas na Antiogië gestuur – ‘n bewys van die vertroue wat hulle in hom gehad het (Handelinge 11:19 – 30).  Barnabas het die gelowiges in Antiogië aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. Dan lees ons hierdie wonderlike getuigskrif: Barnabas was ‘n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ‘n vaste geloof.

Die gemeente in Antiogië het so vinnig gegroei dat Barnabas gevoel het dat hy hulp nodig gehad het. Barnabas reis na Tarsus om Saulus te gaan soek. Toe hy hom daar kry, bring hy hom na Antiogië om hom te help. Twee jaar lank werk hulle saam in Antiogië – en het baie mense onderrig. Hulle het ook ‘n hulpfonds begin en geld ingesamel wat vir hulle medegelowiges wat in Judea gewoon het, gestuur sou word. Barnabas en Saulus het die geld na Jerusalem geneem (Handelinge 11:29 – 30). Na hulle hulle opdrag in Jerusalem voltooi het, keer hulle na Antiogië terug en hulle het vir Johannes, wat ook Markus genoem word, met hulle saamgevat (Handelinge 12:25).

In Handelinge 13 lees ons dat die leiers van die gemeente in Antiogië vir Barnabas en Saulus afgesonder het om die werk van die Here te gaan doen. Drie aspekte is van belang:

(1)   Die Heilige Gees het hierdie opdrag aan die gemeente gegee;

(2)   Barnabas se naam woord voor dié van Saulus genoem. Hy was waarskynlik die prominentste van die twee.

(3)   Hulle word profete en leraars in die gemeente genoem.

 

Hulle besoek Siprus en daarna verskeie gemeentes in Klein-Asië, insluitend Antiogië in Pisidië, Ikonium en Listra. In Listra was daar sekere mense wat geglo het dat die gode soos mense geword en na hulle afgekom het. Barnabas word Zeus genoem.

Terug in Antiogië is daar moeilikheid. Mense wat van Judea af gekom het, probeer die Christene oortuig dat hulle besny moes word voordat hulle gered kan word. Paulus en Barnabas verset hulle daarteen en het in  ‘n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak (Handelinge 15). Paulus, Barnabas en ‘n paar ander van die gemeente word na die apostels en ouderlinge in Jerusalem gestuur om hierdie probleem uit te sorteer. Barnabas en Paulus het die vergadering toegespreek waarna besluit is dat die besnydenis nie nodig was vir nie-Jode nie. Ons lees dat die vergadering in Jerusalem van Barnabas en Paulus sê dat hulle hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus (Handelinge 15:26)

Nou volg ‘n tragiese episode. Paulus en Barnabas beplan ‘n tweede sendingreis. Barnabas wou vir Johannes Markus saamneem, maar Paulus weier botweg. Op hulle vorige sendingreis het Markus hulle in Pamfilië verlaat. Paulus wou hom nie saamneem nie, want Markus het nie enduit die werk saam met hulle gedoen nie (Handelinge 15:36 – 41). Hieroor het hulle so skerp van mekaar verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas en Markus vertrek per skip na Siprus terwyl Paulus vir Silas saam met hom neem op sy tweede sendingreis. [Paulus en Markus is wel later versoen. In Kolossense 4:10 lees ons dat Markus, die neef van Barnabas, groete stuur aan die gemeentelede in Kolosse.] Dit wil voorkom of Paulus en Barnabas wel later versoen is. In 1 Korintiërs 9:6 verwys Paulus weer na hom en Barnabas as hy verwys na apostels se reg op lewensonderhoud.

Hierna verskuif die fokus in Handelinge na Paulus en ons lees nie weer van Barnabas nie.

Elke gemeenskap, gemeente en individu het iemand nodig wat ander kan moed inpraat. Barnabas was so iemand. Die gevolge van sy moed inpraat was deurslaggewend vir die vroeë kerk. God gebruik sy verhouding met Paulus en Johannes Markus om hulle twee aan die gang te hou op ‘n stadium toe hulle swaar gekry het. Is ons iemand wat ander moed inpraat of kritiseer ons eerder?

Barnabas was ‘n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ‘n vaste geloof (Handelinge 11:24)

 

Skrywer: Dr Coen Slabber