Metodiste of Presbiteriane?

Metodiste of Presbiteriane? – Kobus Kok

Jeanette vra:

Wat is die verskil tussen die Nederduits-Hervormde kerke en die Metodiste kerk? Ek wil graag my kinders na n Engelse kerk neem oor hul akademiese taal engels is. Watter Engelse kerk stem ooreen met die NG en Hervormde kerke? Help asb?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Metodiste of Presbiteriane?

Beide die Metodiste en die Presbiteriane het ʼn noue verwantskap met die NG Kerk in die sin dat beide binne die Gereformeerde Protestantisme ontstaan het en Calvinisties van aard is. Beide het ook ʼn lang geskiedenis in Suid Afrika.

In die NG Kerk se geskiedenis het die Skotse Presbiteriaanse invloed ʼn belangrike rol gespeel. In 1820 het ʼn groot hoeveelheid Britse setlaars die land ingestroom. Lord Charles Somerset, met sy Angliseringsbeleid, sou teen 1822 Engels die amptelike taal van die land maak. In die proses is al hoe meer Skotse predikante ingevoer. Die rede daarvoor was onder meer dat die Skotse Presbiteriane sterk ooreenkomste het met die Calvinisme, wat natuurlik eie is aan die NG Kerk. Andrew Murray snr was byvoorbeeld iemand wat uit hierdie groep gekom het, en uiteindelik het hy en sy familie ʼn reuse geskiedkundige invloed op die herlewing van die 1800’s in die NG Kerk gehad. Toe die Presbiteriaanse Moederkerk in Kaapstad gebou is, het baie geld uit die NG Kerk se fondsinsamelings gekom, wat net wys hoe mooi hulle mekaar ondersteun het. Toe die hoeksteen op 9 November 1827 gelê is, het die lidmate van beide kerke eers saam nagmaal gehou.

Die Metodiste Kerk het ook invloed in die NG Kerk uitgehad veral in die negentiende en twintigste eeue. Die Metodistiese invloed het aangesluit by die Nederlandse Nadere Reformasie (gereformeerde piëtisme) wat gelei het tot ‘n evangeliese stroom in die NG Kerk. Die Metodiste is bekend vir hulle praktiese realisme en hulle besondere vroomheid. Die kombinasie van die twee eienskappe het neerslag in die NG Kerk gevind en die dampkring geskep waarbinne baie bekende NG predikante ontwikkel het, soos Ben Marais, David Bosch, Beyers Naude en Willie Jonker.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok