Moeilike Skrifgedeeltes

“In a world of choice, obligatory religions are not faring well.” – Diana Butler Bass

Moeilike Skrifgedeeltes

Hierdie woord is moeilik; wie kan daarna luister? (Johannes 6:60). [Dit is die direkte vertaling uit die Interliniêre Bybel.] Selfs Petrus sê dat daar dinge in Paulus se briewe is wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onverstandige mense gee daaraan ‘n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang  (2 Petrus 3:16).

 

Joe McKeever noem vyf sulke tekste:

  •  Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat (Maleagi 1:2 – 3).
  • Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het, en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring (Hebreërs 6:4 – 6).
  • Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dit wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie (Johannes 10:28 – 29).
  • Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun (Romeine 8:29).
  • En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig (1 Petrus 3:19).

McKeefer gee ‘n paar riglyne oor hoe ons hierdie moeilike gedeeltes moet benader.

  • Dit is nie nodig om die definitiewe antwoorde op elke probleem oor Skrifgedeeltes te hê nie. Wees geduldig en eerlik. Dit is egter nie ‘n verskoning vir luiheid nie.
  • Ons moet ons daaraan toewy om God se woord te ken – ook die probleme oor die sogenaamde moeilike teksgedeeltes.  Werk hard; studeer. Ongelukkig is dit net nie moontlik om al die bronne te raadpleeg nie. soek die beste bronne en kry ‘n paar mentors om jou te help as jy vashaak.
  • As jy ‘n gedeelte bespreek, bring self die probleem na vore – moenie wag tot ander vra nie. Wat beteken dit? Goeie voorbereiding en gebed.
  • As jy vasgevra word, sê dat jy nie weet nie, dat jy dit sal naslaan en weer na die persoon sal terugkom. Een vangplek: as jy dit sê, moet jy terugkom.
  • Gee kort antwoorde op ingewikkelde vrae. Niks frustreer mense soos ‘n ellelange antwoord op ‘n vraag wat jy met ‘n ja of nee kon geantwoord het. As jy bang is vir vrae, antwoord elke vraag 15 minute lank – mense sal te bang wees om weer te vra!