Moenie skaam wees vir die evangelie nie

 

For the inexperience of youth requires the practical wisdom of age to strengthen and direct it – Cicero

 

Moenie skaam wees vir die evangelie nie

Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie (2 Timoteus 1:8a)

Wat moet ons met die evangelie doen? Ten eerste moet ons nie skaam wees daarvoor nie. In die voorafgaande verse het Paulus vir Timoteus  herinner aan God se werk in hom wat enige lafhartigheid oorwin. In hierdie vers sien ons duidelik dat ons van die Here moet getuig. Ons verkondig nie ‘n idee nie, maar ‘n Verlosser.

 

Timoteus sit in Efese. Efese was ‘n stad vol afgode. Die kruisdood was vir baie in Efese ‘n skande. ‘n Verlosser wat aan ‘n kruis gesterf het, was vir hulle onsin. Ons moet eerder die passie van Polikarpus aangryp. Hy weier om Christus te verloën ten spyte van die wete dat hy daarvoor gemartel gaan word. Eighty and six years have I served Him, and He never did me any injury; how then can I blaspheme my King and my Savior.

 

Vandag word die idee dat die mense “sleg/sondig” is en ‘n Verlosser nodig het, gesien as onkundig, primitief of sommer net dwaas. So kry ons ook ander wêreldsienings, soos die nuwe ateïsme, wat God verwerp. Daar is ook die opkoms van ander godsdienste wat die Christendom nie goedgesind is nie. Daarom is Paulus se opdrag vandag steeds relevant. Onthou Jesus se eie woorde: Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir Hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader (Markus 8:38). Dit gaan hier oor Jesus en sy woorde.

 

Paulus vra ook dat Timoteus hom nie vir Paulus wat in die tronk sit, moet skaam nie. Hy sit immers om Jesus se ontwil in die gevangenis. Lafhartige gelowiges weier dikwels om met hulle medegelowiges wat opstaan vir Christus te assosieer. Paulus soek nie die goedkeuring van mense nie. Hy sit nie in die tronk om deur mense geloof te word nie, maar tot eer van sy Verlosser deur aan sy wil gehoorsaam te wees.