Moenie veroordeel nie

No heart is in so bad a state as the heart that does not feel sin – J. C Ryle

 

Moenie oordeel nie

Hierdie is waarskynlik een van die gewildste Bybelverse in ons samelewing – veral onder nie-Christene. Dit pas immers aan by twee algemene aannames in ons samelewing: godsdiens is privaat  en moraliteit is relatief. Mense sien “moenie oordeel nie” as ‘n manier om te sê “jy kan nie vir my sê dat ek verkeerd is nie.” Jesus wat gesê het dat ons nie moet oordeel nie, het nie ons aannames gedeel nie. Hy het gereeld in die openbaar oordele uitgespreek. Hy sê: Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is (Johannes 7:7). Dit is duidelik dat Jesus nie net sy hande in die lug opgegooi het en gesê het “wie is Ek om te oordeel” nie.

 

 

Jesus het vir mense gesê dat hulle dade sleg is, maar: God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Johannes 3:17). Daar is duidelik ‘n verskil tussen die harde waarheid te vertel en veroordeling. Jy veroordeel iemand as jy hom as persoon verwerp. Wat belangrik is, is wat jy doen nadat jy die waarheid aan hom vertel het. Nadat Jesus ons die harde waarheid oor ons sondes vertel het, trek Hy ons nader; Hy maak ons sy vriende. Die teenmiddel vir oordeel is om altyd die evangelie in gedagte te hou. J. D. Greear het ‘n paar tekens dat ons ander veroordeel, geïdentifiseer:

  • Jy word kwater vir ander se sonde as verleë oor jou eie

Dietrich Bonhoeffer het gesê dat een van die eerste teken van Christelike volwassenheid is frustrasie met die kerk se valsheid en ‘n begeerte om jou van die kerk los te maak. Die volgende teken van groei is om agter te kom daardie selfde valsheid van die kerk is ook in jou. Ons moet ander konfronteer oor hulle sonde, maar ons moet altyd pynlik bewus wees van ons eie sonde.

 

  • Jy weier om te vergewe

As jy weier om te vergewe, vergeet jy dat God jou vergewe het. Vergifnis beteken dat ek die skuld absorbeer en in ruil daarvoor gee ek liefde

 

  • Jy maak jou van diegene wat van jou verskil los

Dit is die kern van veroordeling Jy sê in werklikheid dat julle as gevolg van hierdie saak nie meer vriende kan wees nie. Jy moet die persoon wat van jou verskil meer liefhê as jou standpunt oor die saak. Dit beteken nie dat jy nie jou saak stel of dat jy ‘n kompromis aangaan nie. Toe Judas vir Jesus in die tuin van getsemane verraai het, sê Jesus vir hom: Vriend, doen wat jy gekom het om te doen (Matteus 26:50). Vriend? Jesus bied aan Judas sy hand van vriendskap.

 

  • Jy skinder

Skinder is gevaarlik, want jy oordeel iemand sonder om aan hom die geleentheid te gee om homself te verdedig of om te verander.

 

  • Jy weier om kritiek te aanvaar.

Hoekom haat ons kritiek? Is dit nie omdat ons dit haat om te erken dat ons foute het nie?

 

  • Jy weier om iemand se standpunt reg te stel

Dit beteken gewoonlik dat jy nie glo die Bybel is waar nie of jy dink die ander persoon kan nie verander nie. Maar deur te aanvaar die ander persoon sal nie luister of verander nie, is jy besig om hom te oordeel.

 

  • Jy skryf iemand as hopeloos af

Ons dien ‘n Verlosser wat die dood oorwin het. Hoe kan ons nou dink Hy kan nie mense vergewe nie. Hy kan mense vergewe – en Hy doen dit gereeld. Hy het selfs vir my vergewe. Daar is ‘n balans tussen genade en die waarheid. Jy oordeel nie ander deur die waarheid te weerhou nie; jy veroordeel hulle wel as jy die waarheid sonder genade praat. Gee aan ander die genade en waarheid van die evangelie. Die evangelie kombineer beide.