Moet jy jou baba inseën of doop – Hermie van Zyl

Alexandria vra:

Ek wil graag weet wat die verskil is tussen jou baba inseën en jou baba doop, want wat ek lees in die Bybel is dat kinders reeds aan die Here behoort, en vir my beteken dit wanneer jy self as persoon besluit jy wil weer gebore word deur die bloed van Jesus dat jy jouself moet groot doop?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Ek verstaan die vraagsteller se gedagtegang soos volg: Kinders van gelowige ouers behoort reeds aan die Here, dit is dus nie nodig om sulke kinders deur een of ander kerklike handeling – doop of inseëning – aan die Here te verbind nie. Verder, die doop is blykbaar vir die vraagsteller per definisie iets wat eers kan volg nadat die persoon self tot sy/haar verstand gekom het, en self glo, en dan aanmeld vir die doop. Die doop is dan ‘n teken van die dopeling se persoonlike wedergeboorte en geloof.

Ek hoop dat ek hiermee die vraag reg vertolk. Maar ten minste kan ek op grond van my “rekonstruksie” ‘n paar opmerkings maak oor doop, inseëning, grootdoop en kleindoop waardeur hopelik groter duidelikheid mag kom.

Kerke wat die kinderdoop beoefen, doop nie kinders voor die voet nie, maar wel kinders van gelowige ouers. Dit bevestig die gedagte wat reeds in die Ou Testament (OT) geld, dat God van sy kant ‘n verbond met die vader van die gelowiges, Abraham, en sy nageslag aangegaan het om vir hulle ‘n God te wees en dat hulle vir Hom ‘n volk moet wees. As teken van hierdie verbond is die besnydenis aan babaseuntjies bedien (Gen 17:9-12). In die Nuwe Testament (NT) word die verbond voortgesit, want die God van die OT is ook die God van die NT. Nou word die verbond egter gevestig in Jesus Christus. Die redenasie is dan soos volg: Die God wat in die NT handel, is nie minder genadig en barmhartig as die Een wat in die OT gewerk het nie. Daarom, so redeneer die voorstanders van die kinderdoop, het die doop in die plek van die besnydenis as verbondsteken gekom (vgl Kol 2:11-12). Die doop is deur Christus self ingestel (Matt 28:19-20) en is ‘n ryker teken as die besnydenis, want dit kan ook aan dogtertjies bedien word. Net soos wat ‘n seuntjie op agt dae in die OT besny is, so behoort kinders van gelowige ouers ook so gou moontlik die teken van die verbond – die doop – te ontvang.

So gesien is die doop nie in die eerste plek ‘n teken van die kind se geloof nie, maar – net soos in die OT – ‘n teken van God se genade en trou wat Hy aan die kind beloof. Daarom is die doop ‘n sakrament, ‘n heilige teken en verseëling van God se trou aan sy beloftes. En soos wat die kind grootword en deur sy ouers tot geloofsvertroue in Christus gelei word, moet die kind ook deur persoonlike bekering en geloof in Christus sy/haar aandeel aan die verbond gestand doen, naamlik om in gehoorsaamheid ‘n navolger van Christus te wees. Want ‘n verbond het twee kante: God se kant, en die mens se kant. Die doop wys weliswaar primêr heen na wat God doen, maar dit omvat ook reeds en herinner die mens voortdurend aan sy/haar persoonlike geloofsantwoord.

Die punt wat ek probeer maak, is dat die vraagsteller se aanname – dat kinders van gelowige ouers reeds aan God behoort – presies die rede is waarom klein kindertjies gedoop word.

Daar is egter kerke wat die kinderdoop verwerp. Dit is nie hier die plek om volledig op al die argumente in te gaan waarom die kinderdoop nie aanvaar word nie. Genoeg net om te noem dat die vernaamste argument gewoonlik is dat mens nêrens in die NT lees van babas/kinders wat gedoop word nie, maar wel net van volwassenes wat ná hulle tot geloof gekom het, gedoop is. (Behalwe as mens by tekste soos Hand 16:31 en 1 Kor 1:16 by die terme “al sy mense” en “huisgesin” ook klein kindertjies insluit.) Dit is ook nie nou van pas om op die teenargumente in te gaan nie, want dis ‘n onderwerp op sy eie. Genoeg net om te sê dat bg argument die rede is waarom kerke wat die kinderdoop verwerp gewoonlik een of ander vorm van inseëning het. Hiervolgens word klein kindertjies van gelowige ouers nie gedoop nie, maar wel ingeseën by die gemeente, sodat hulle van kleins af in die kerk kan grootword en gelei word tot persoonlike geloof, en dan gedoop word. Vanuit die standpunt van die kerke wat die kleindoop aanvaar, word gewoonlik gesê dat so ‘n grootdoop van mense wat in die kerk grootgeword het, eintlik net ‘n “uitgestelde kinderdoop” is, of dat die inseëningseremonie niks anders is nie as ‘n “droë doop”.

Maar dit nou daar gelaat. Ek wou net die argumente noem waarom sommige kerke klein kindertjies doop en ander hulle net inseën.

Net ‘n laaste opmerking: die vraagsteller praat van ‘n “besluit om weer gebore te word”. Ek verstaan wat daarmee bedoel word, maar tegnies is dit nie heeltemal korrek nie. Net so min as wat ‘n mens kan kies om gebore te word, net so min kan jy besluit om “weer gebore” te word. Laat ek verduidelik: Daar is ‘n hele paar terme in die Bybel wat die heilsweg beskryf. Almal belig dieselfde gebeure, net van verskillende kante af. Sommige van hierdie terme lê meer klem op wat die mens doen, soos bekering en geloof. Ander beklemtoon meer wat God doen, soos regverdigmaking, verlossing en – wedergeboorte! Wedergeboorte druk veral die gedagte uit dat God ons deur sy Gees nuut maak, ons as ‘t ware van vooraf mens maak, ons opnuut gebore laat word sodat ons kan begin dink en leef soos God wil hê. So gesien is wedergeboorte nie iets wat óns kan doen nie; dis iets wat God bewerkstellig deur die werking van sy Gees om ons sy kinders te maak (Joh 3:3-8). Eintlik is daar niks wat ons uit onsself kan doen om gered te word nie, dis volledig God se werk. Tog sluit God ons as mense in by sy reddingswerk, en buig Hy ons wil om sodat ons in Hom kan glo en tot bekering kan kom. Maar selfs wanneer óns glo en óns tot bekering kom, is alles eintlik sy nuutmakende of wederbarende werk in ons waardeur ons sy kinders gemaak word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl