Moses ontmoet God in ‘n doringbos

You are the most difficult person you will ever lead.” —Bill Hybels

Moses ontmoet God in ‘n doringbos

Moses was besig om sy skoonpa se vee op te pas toe hy ‘n snaakse verskynsel sien (Eksodus 3). Hy sien ‘n doringbos wat aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Hy stap nader om die verskynsel te ondersoek. Maar toe hy naderkom, roep God na hom uit die doringbos. God sê vir hom dat hy sy skoene moet uittrek, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. God openbaar toe sy plan  om sy volk uit Egipte te verlos, aan Moses.

Moses vra toe twee baie belangrike vrae:

 

  • Wie is ek? Hoekom stuur U nou juis vir my?
  • Wie is U? Wat moet ek vir die mense sê as hulle my vra wie my gestuur het?

Hierdie is twee basiese vrae wat elkeen van ons vir onsself moet afvra. My hele lewe – hier, nou en tot in ewigheid – word bepaal deur die regte antwoord  op hierdie twee vrae.

Vraag 1: Wie is ek dat ek dit by die farao sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sou bevry? God antwoord nie die vraag direk nie, maar sê vir Moses: Ek sal by jou wees. Van die begin af was God se mense bekend as mense by wie Hy is en wat aan Hom behoort. Ons kan nie onsself los van God definieer nie. Dit is sy teenwoordigheid by ons wat ons in staat stel om te doen wat Hy van ons verwag. Glo ons nog steeds hierdie woorde van God:Ek sal by jou wees?

Vraag 2: Wie is U? Wat is sy Naam? Wat moet ek dan vir hulle sê? Dan die verbasende antwoord: Ek is wat Ek is … ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur. God kan Hom nie definieer deur na iets of iemand anders te verwys nie. God het nog altyd bestaan; Hy is wie Hy is van ewigheid af en sal dit altyd wees. Hierdie is ‘n stelling van ‘n absolute wese, absolute mag en van absolute belang. God is wie Hy is en sal nooit verander nie. Hy is nie sommer ‘n generiese god soos die Griekse en Romeinse gode nie. Hy is ‘n spesifieke persoon met ‘n unieke karakter en ‘n spesifieke, spesiale verhouding met sy mense.

Moses het geen idee gehad waarin hy hom begewe het toe hy sy skape gelos het en nader geloop het om te sien hoekom die bos nie uitbrand nie. Hy loop egter in die teenwoordigheid van die lewende God. Daarom wat God hom beveel om sy skoene uit te trek. Toe Moses sien wat werklik aan die gang is, bedek hy sy gesig – God se heiligheid oorweldig hom. Al wat hy kon doen was om te luister en te gehoorsaam.