My doel in die lewe (2)

 

The way to do nothing at all is to be continually resolving that you will do everything. —C.H. Spurgeon

 

My doel in die lewe (2)

In die vorige blog het ons in die algemeen oor die doel van my lewe gepraat Nou gaan ons probeer vasstel wat dit is deur ‘n aantal vrae te vra en antwoorde te gee.

 

V: Waarom het God jou gemaak?

A: Om Hom te verheerlik.

Dit is die lewensvraag waarmee elke mens op een of ander stadium van sy lewe worstel. Die Bybel het die antwoord: Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid (Romeine 11:36). Ons bestaan om God te verheerlik. Dit maak ons nederig. As jy dit verstaan en toepas, verander dit alles in jou lewe. Die eenvoudige feit: ek is nie die rede waarom ek hier is nie. As ek vir myself, my eie gemak, heerlikheid en roem lewe, sal ek nie die doel waarvoor God my gemaak het verwesenlik nie.

 

V: Hoe kan ek God verheerlik in my alledaagse lewe?

A: Deur goeie werke te doen.

Word God net verheerlik as ek my Bybel lees en bid? Kan ek Hom in my alledaagse lewe verheerlik? Jesus self het hierdie vraag geantwoord: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:16). Jou goeie werke is soos ‘n lig. As daardie lig skyn verlig dit vir God. As mense daardie lig sien, is hulle veronderstel om God te sien en te sê: Hy is ontsagwekkend. Jy verheerlik nie vir God net as jy oor Hom praat of sy evangelie met ander deel of Hom in die openbaar aanbid nie. Jy verheerlik ook vir God as jy goeie werke doen. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening (1 Petrus 2:12).

 

V: Wat is goeie werke?

A: Dit is dade gedoen tot verheerliking van God en die voordeel van ander mense.

Almal van ons weet hoe om goeie werke te doen wat ons bevoordeel. Maar toe jy verlos is, het God vir jou ‘n hart gegee wat verlang om goed vir ander te doen – al kos dit jou iets. Dit is immers wat God aan die kruis gedoen het. Hy roep ons om Hom na te boots.

 

V: Ek is ‘n sondige persoon: kan ek goeie werke doen?

A: Ja. Christene kan goeie werke doen as gevolg van die voltooide werk van Christus.

As Christen is jy bewus van jou sonde. Jy kan goeie werke doen – dit is die rede waarom God jou verlos het. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Paulus gaan selfs verder in Titus 2:14:  Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen. Ek kan werke doen wat vir God vreugde bring – al doen ek hulle nie so volmaak soos ek graag wil nie en al is ek onseker oor my motiewe. Jou beste dade is ver van volmaak, maar God is tevrede met hulle en aanvaar dit met vreugde.

 

V: In watter lewensgebiede moet jy goeie werke beklemtoon?

A: Te alle tye en op alle lewensgebiede.

Daar is geen gebied in jou lewe waar jy nie aan ander goed kan doen nie. Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God (1 Korintiërs 10:31). In 1 Timoteus 2:9 – 10 skryf Paulus spesifiek vir vroue: Hulle versierings …maar goeie werke , soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. By elke geleentheid en binne elke konteks is dit moontlik om goed aan ander te doen.

 

V: Wat is produktiwiteit?

A: Dit is om ‘n doeltreffende rentmeester van my gawes, talente, tyd, energie en entoesiasme  te wees sodat dit tot voordeel van ander en ter verheerliking van God is.

Produktiwiteit roep jou om jou hele lewe op hierdie een doel te rig: om God te verheerlik en om goed aan ander te doen. Dit roep jou om jou geestelike gawes wat God vir jou gegee het toe Hy jou verlos het, te gebruik. Jy moet jou talente, jou natuurlike sterkpunte, gebruik. Jy moet die 24 uur wat God elke dag vir jou gee bestuur; jy moet jou energie gebruik. Dit betrek selfs jou entoesiasme – die passie en belangstelling wat jy na jou goeie werke kan bring. God roep jou om dit alles te neem en versigtig en getrou te gebruik om aan ander goed te doen.

 

My doel: Om God te verheerlik deur goed aan ander te doen.