My identiteit

 

‘n Evangelis vra vir ‘n man wanneer hy gered is. Die man dink so ‘n oomblik na en antwoord dan: “Twee duisend jaar gelede, maar ek het dit eers onlangs uitgevind.”

 

My identiteit

Dit maak nie saak of ek ryk of arm, swart of wit is nie – wat saakmaak is my identiteit. Tim Keller sê dat ons meer op ons identiteit wat ons almal in Christus het, moet fokus in plaas van fokus op al die verskille tussen ons. Daar is groot verskille tussen ons. Ons kan nie die evangelie kommunikeer en verwag mense moet dit hoor tensy ons kommunikasie met dade gepaard gaan nie. As jy een ding sê en ‘n ander doen, gaan niemand na jou luister nie. Christene moet die woorde van die evangelie uitleef.

 

Efesiërs 2 sê dat ons almal medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God is (vers 19). Ons is burgers van ‘n nuwe koninkryk. Hierdie burgerskap van God se koninkryk is belangriker as ons burgerskap aan enige volk of ras of kultuurgroep. Omdat ons lede van God se huisgesin is, is ons mekaar se broers en susters. Ons is nie net burgers van God se koninkryk nie, maar sy kinders.

 

Hierdie is belangrik, want voor Christus in ons lewens kom, word ons identiteit deur ons verskille bepaal. Jy is nie eintlik trots omdat jy baie geld het nie, maar omdat jy meer geld as ander het. Wat ons moet besef is dat ons almal sondaars is. Dit maak jou nederig. In die evangelie is daar geen ranglys nie. Jy kan op niemand neerkyk nie.