My oortuigings

Sin tastes sweet but turns bitter in our stomachs. Holiness often tastes bitter but turns sweet in our stomachs. —Gary Thomas

 

My oortuigings

Die basis vir ons besluite is of omstandighede of kritiek of oortuigings of wat gemaklik is. Net besluite wat op oortuigings gebaseer is, sal staande bly en ‘n nalatenskap laat. Mense wat die grootste impak op die wêreld gehad het – goed en sleg –  is mense met die sterkste oortuigings. Hulle was nie noodwendig die slimste of rykste of selfs bekendste mense nie.

 

As jy oortuigings wil bou, moet jy hulle bou op iets wat staande sal bly. Alles verander; ons leer meer en meer. Daar is net een ding wat nooit verander nie: die waarheid van God. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig (Jesaja 40:8).

 

Rick Warren noem ses oortuigings waarop ‘n gemeente gebou moet word.

  1. Dit gaan alles oor God

Dit gaan nie oor ons of inkomste of politiek of enigiets anders nie. Dit gaan alles oor God. As ons dit nie aanvaar nie, gaan ons bediening nooit sin maak nie. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! (Romeine 11:36) Dit gaan nie oor die dinge wat die wêreld dink belangrik is nie. Om God lief te hê, is belangriker as enigiets anders. Dit is my eerste prioriteit. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod (Matteus 22:37 – 38).

 

  1. Net die kerk sal vir altyd bestaan

Op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18). Alles op aarde vergaan. Geen nasie bestaan vir altyd nie. Oor ‘n duisend jaar sal selfs baie van die goeie Christelike organisasies al verdwyn het. Niks wat die mens gemaak het, bestaan vir altyd nie. Natuurlik is daar verskille tussen kerke, maar ons moet alle kerke liefhê. Liefde is belangriker as persoonlike verskille in die kerk. Ons moet ons broers en susters in Christus liefhê.

 

  1. God verwag van my om ook ander lief te hê

Die lewe is nie oor die verkryging van dinge nie; dit gaan nie oor gewildheid nie. Dit gaan oor liefde. Jesus sê dat die tweede groot gebod is om jou naaste lief te hê. Wie is my naaste? Almal. Ek het nie toestemming om sekere mense nie lief te hê nie. Dit sluit in mense wat van jou verskil, mense wat moeilik is. Dit is maklik om mense wat met jou saamstem lief te hê. Maar Jesus sê dat ons selfs ons vyande moet liefhê. Dit is moeilik om mense wat jou sleg behandel lief te hê, maar dit is wat Jesus van ons verwag.

 

  1. Die hele wêreld het vir Jesus nodig

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). Geen nasie is uitgesluit nie. As die hele wêreld dan vir Jesus nodig het, moet ons sy goeie nuus oral verkondig. Dit moet gelowiges se prioriteit in die lewe wees. Ons moet ophou om vir onsself te leef en vir Jesus leef. Onthou alle mense is vir God waardevol.

 

  1. By God is alles moontlik

Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik (Matteus 19:26). God wag vir ons; Hy wag dat ons Hom sal vertrou; God wil jou gebruik; Hy wil verbasende dinge in jou lewe doen. Jy moet net ophou sê: Ek kan nie. Alles is moontlik vir diegene wat in God glo.

 

  1. Die einde van die geskiedenis is onvermydelik

Die Bybel sê vir ons hoe dit gaan gebeur – ons gaan permanent by God wees. Aan die einde oorwin God.

 

Wat is jou oortuigings wat alles wat jy in die gemeente doen bepaal?