My roeping

 

If you really want to do something, you’ll find a way. If you don’t, you’ll find an excuse.” –Jim Rohn

 

My roeping

In die Skrif is die woord roeping gevul met betekenis. God roep ons na Hom – uit die duisternis en die dood na die lewe en liefde van Christus. Roeping beteken nie “werk” nie. Dit is ‘n oproep om ander mense te dien. Luther en die ander hervormers het onder andere die leer van die Skrif alleen herstel. Hulle het ook die priesterskap van alle gelowiges en die die leer van roeping herstel.

 

Gene Veith (God at Work: Your Vocation in all of Life) begin hierdie onderwerp met die volgende sin: “When God blesses us, He almost always does it through other people.”  Hierdie is die vrug van die gawe van roeping. In sy boek bespreek hy ‘n paar aspekte van roeping.

 

  1. Hoekom ‘n roeping?

In die Middeleeue was roeping feitlik uitsluitlik beperk tot voltydse werk in die kerk. Met die Hervorming verander dit. Hulle leer dat lidmate ook ‘n roeping het. Nie alle gelowiges is leraars nie, maar alle gelowiges is priesters – die priesterskap van alle gelowiges. Luther sê dat roeping ‘n masker vir God is – God versteek Hom in die werkplek, die familie en die samelewing. Om te besef dat die alledaagse aktiwiteite wat meeste van ons lewens vul wegkruipplekke vir God is, is op sigself ‘n openbaring. Meeste mense soek God in mistiese ondervindings en in buitengewone dinge wat hulle moet doen. Maar Hy is in die alledaagse teenwoordig.

 

  1. Die goeie werke van roeping

Die leer van roeping neem ons vertikale verlange en druk dit in horisontale verhoudings uit. “God does not need our good works, but our neighbor does.”  Ware goeie werke moet iemand help. In ons roeping doen ons nie goeie werke vir God nie – ons doen dit vir ons naaste. Goeie werk word in die alledaagse lewe gedoen. Dit gaan nie oor innerlike gesindhede en abstrakte idees nie, maar oor konkrete interaksie met ander mense.

 

  1. Kies ‘n roeping

Die leer van roeping bevestig die soewereiniteit van God en sy roeping. Ons kies nie self ons roeping nie – ons word geroep. Ons kultuur is baie erg oor keuses. Mense verheerlik wilskrag tot so ‘n mate dat hulle glo dat hulle hulle eie waardes kies. Alle optredes is moreel reg solank as wat daar ‘n keuse is. Mense kies wat hulle wil glo en wat hulle kies, is reg vir daardie persoon. Ons roeping is as ‘t ware in die hande van ander mense.

 

Om my roeping te vind asof dit iets onbekend is. is misleidend. Ons kies nie ons roeping nie; dit is reeds daar – daar waar ons werk en woon en wat ons nou doen. Om my roeping te vind, beteken om uit te vind waar God is – die God wat Hom in ons naaste, in onsself en in sy wêreld versteek.

 

  1. Die werk van geloof

Geloof werk. As dit nie werk nie, is dit volgens Jakobus dooie geloof. Die leer van roeping verduidelik hoe en waar geloof werk. Werk gedoen in geloof se betekenis verskil van werk wat nie in geloof gedoen word nie. Die leer van roeping laat die Christen sien hoe die gewone aktiwiteite van die lewe vol betekenis kan wees.  “Human work is an imitation of God’s work, a participation in God’s creation and His creativity. Ruling, subduing, multiplying, causing plants to grow, making things—these are what God does, and yet God gives them as tasks to human beings.”

 

Nie elke beroep of werk is ‘n roeping nie. ‘n Dwelmhandelaar is nie deur God geroep nie – dit gaan nie met liefde vir die naaste gepaard nie – dit doen hulle skade aan. Christene is in die wêreld betrokke deur hulle roeping uit te leef. So kan hulle ‘n positiewe invloed op die kultuur uitoefen. Gewone mense wat hulle liefde en diens vir hulle naaste in hulle werk uitdrukking gee, vervul hulle roeping.

 

  1. Enkele beginsels

Die leer van roeping is ‘n lewenslange leerkurwe. Hier is ‘n paar beginsels vir ons lewe.

  • Elke roeping het sy eie unieke versoekings en vermoë om te sondig.
  • Om buite ons roeping op te tree, lei tot ondoeltreffendheid, frustrasie en gemorste tyd.
  • Mense wat werk, weet dat mense se pad soms geblokkeer is – dit is die tyd vir gebed.
  • ‘God gives daily bread indeed without prayer, also to all the wicked; but we pray in this petition that He would lead us to know it, and to receive our daily bread with thanksgiving.’” (Martin Luther)
  • Christene moet hulle roeping sien as as ‘n manier om God te verheerlik en hulle naaste lief te hê. Ons verheerlik God deur ons naaste lief te hê.
  • Ons vertoon God se liefde en waarheid as ons bid, beplan en werk om goeie dinge vir mense met name en behoeftes te doen.

 

God het aan ons monde gegee om te bid en sy woord te verkondig, maar ook hande en voete om mee te werk. Mag die God wat ons na Hom toe roep aan ons die passie gee om die roeping wat Hy aan ons gegee het, te vervul.