‘n Doeltreffende bediening (3)

Laws too gentle are seldom obeyed; too severe, seldom executed. -Benjamin Franklin

‘n Doeltreffende bediening (3)

Ons het gesien dat Rick Warren sewe sleutels in Romeine 15 geïdentifiseer het vir ‘n doeltreffende bediening. In die vorige blog het ons na die eerste drie sleutels gekyk. Ons kyk nou na die laaste vier sleutels.

  • ‘n Doeltreffende bediening word in God se krag gedoen.

Deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek … my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer (18:19). Hierdie beginsel word ook beklemtoon in Johannes 15:5:  Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom,dra baie vrugte, want sonder My kan hulle niks doen nie. Jy doen nie jou bediening in jou eie krag of in die krag van  jou eie persoonlikheid nie. Ons dink dikwels aan Paulus as iemand met baie selfvertroue. Luister hierna: Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (1 Korintiërs 2:4). Gewone mense word op buitengewone maniere gebruik. In my eie krag kan ek dit nie doen nie, maar met God se krag is ek tot alles in staat.

  • ‘n Doeltreffende bediening word binne God se plan gedoen.

Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie (15:20). Dit was sy ambisie. Ambisie is nie verkeerd nie solank jy dit gebruik om God se doel vir jou lewe en die bediening wat Hy aan jou toevertrou het, te vervul. Paulus maak planne – hy wil nog Spanje toe gaan. Ons kan nie soggens opstaan en sê: “Here wat wil U hê moet ek vandag doen nie?” Paulus het ‘n duidelike strategie gehad – hy wou al die groot stede in die Romeinse Ryk besoek. Hy het besef dat hy nie oral kon gaan nie en daarom fokus hy op die stede. God wil hê dat ons beplan – lees net Spreuke. God wil hê dat ons die hulpbronne wat Hy vir ons gegee het optimaal moet gebruik. Iemand het vir Billy Graham gevra  of hy nie moeg word van bediening nie. Sy antwoord was: “Ek word moeg in die bediening, maar nie van die bediening nie.”

  • ‘n Doeltreffende bediening word deur God se mense ondersteun

Finansiële ondersteuning is een manier om jou gemeente se bedienings te ondersteun: Die gemeentes in Masedonië en Agaje het die naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem (15:26). Gelowiges moet hulle tyd, energie, diens en geld gee.

  • ‘n Doeltreffende bediening word op gebed gebou

Stry saam met my deur vir my te bid dat God my veilig mag hou tussen al die ongelowiges in Judea en dat my hulp aan Jerusalem aanvaarbaar mag wees vir die gelowiges daar (15:30 – 31). Ons moet vir mekaar se bediening bid. Saam is ons ‘n simfonie waarin elkeen sy deel moet speel. Die wysie is dieselfde, maar die klank verskil. Almal van ons lees van dieselfde bladsy – ons bladmusiek is die Bybel. Ons moet vir mekaar bid.

As ons hierdie sewe beginsels navolg, sal ons bediening meer doeltreffend wees.