‘n Goeie gewete is ‘n geoefende gewete

 

“When I cannot understand my Father’s leading, And it seems to be but hard and cruel fate, Still I hear that gentle whisper ever pleading, God is working, God is faithful — only wait.” ~ A.B. Simpson

 

‘n Goeie gewete is ‘n geoefende gewete

Hierdie is die tweede kenmerk van ‘n gewete wat die wêreld kan verander.

Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê (Handelinge 24:16 – OAV). Paulus is gedurig besig om sy gewete tot aksie aan te spoor – hy laat dit dink en werk; hy daag sy gewete uit; hy oefen sy gewete; hy roep sy gewete op tot aksie.

 

Volgens Paulus is die gewete soos ‘n spier – dit moet gedurig geoefen word anders gaan dit agteruit. Let daarop dat hy altyd sy gewete oefen. Hy laat nie toe dat sy gewete lui word nie. Hy vra gedurig vrae aan sy gewete: “Is dit reg of verkeerd, waar of vals, goed of sleg?”

 

Maar Paulus het ook sy gewete vir ‘n doel geoefen. Dit was nie vir hom net ‘n filosofiese tydverdryf nie. ‘n Interne debat was nie vir hom genoeg nie – die regte optrede moet volg. Vir hom is ‘n skoon gewete soos ‘n hardloper wat vinnig beweeg oor ‘n gelyk pad sonder hindernisse en pyn. As die gewete verwerp word, is dit soos om op skerp klippe te hardloop. God laat ons pyn in ons gewetens voel as ons sondig sodat ons moet stop en nie verder kan gaan nie.

 

Nou het ons twee opsies: ons kan die pyn ignoreer en voortgaan. Die gevolg: Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is (1 Timoteus 4:2) – ons gewetens word toegeskroei. Mettertyd voel ons nie meer die pyn nie. Ons kan al hoe verder in sonde gaan. The person that loses their conscience has nothing left worth keeping (Izaak Walton).

 

Die twee opsie is dat ons ons bloeiende, pynlike wonde na Christus se wonde neem. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien (Hebreërs 9:14); Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water (Hebreërs 10:22). Sy bloed kan ons gewetens gesond maak. Die eindresultaat is ‘n gewete wat selfs meer sensitief is. Oefen ons ons gewetes gereeld?