‘n Heilige lewe (1)

 

There are no ordinary people. You have never talked to a mere mortal –  C. S. Lewis

 

‘n Heilige lewe (1)

Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Hebreërs 12:14)

‘n Heilige lewe is nie ‘n opsie nie – ons moet ons daarvoor beywer. Ons moet ons vir persoonlike heiligheid beywer, want daarsonder sal ons nie die Here sien nie. As jy die Here wil sien – in hierdie of in die ewige lewe – moet jy heilig leef. Word jou lewe gekenmerk deur ‘n strewe na heiligheid? Ons dink dikwels aan alles waarvan God ons verlos het. Is dit nie tyd om ook te dink aan waarvoor God ons verlos het nie?

 

Daar is baie Christene wat graag wil groei in heiligheid. Wat kan ons vir hulle sê om hulle op hierdie reis te help?

 

1 Korintiërs 15 is baie bekend, want daarin gee Paulus vir ons ‘n kort, kragtige opsomming van die evangelie. Soos hy dit verduidelik eindig sy opsomming in die opstanding van Jesus Christus. In vers 5 gee hy vir ons ‘n lys van almal wat Hom na sy opstanding gesien het. In vers 8 sê hy dat die opgestane Christus ook aan hom verskyn het. Paulus sien homself as die laaste (Christus het aan hom na al die ander verskyn) en die minste (hy het voorheen die kerk vervolg). Maar deur die genade van God is ek wat ek is (Vers 10). Alles wat hy is en doen is deur die genade van God.

 

Ons moenie genade teenoor persoonlike inspanning stel nie. In vers 10 sê Paulus nog twee dinge wat  alle Christene ter harte moet neem.

  • Ek het harder gewerk as hulle almal. Wat ek gedoen het, was die gevolg van harde werk. Maar onmiddellik voeg hy by:
  • Eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

Ons werk is nie net ‘n reaksie op God se genade nie, maar ook die gevolg van God se genade.

 

Ons gaan volgende keer verder na ‘n heilige lewe kyk.