‘n Herder

As gevolg van veranderende sosiale omstandighede verander ons verstaan van belangrike Bybelse konsepte. Een daarvan is die beeld van die herder. As ons dink aan ‘n herder dink ons aan harmonie en vrede met die natuur. Is dit die beeld van die herder wat ons in die Skrif kry?

 Die Bybelse herder is ‘n sterk en brawe man. Die Bybelse beeld van ‘n herder is ‘n man omring deur baie bedreigings – hy moet mens en dier konfronteer. Sy taak is om sy kudde te beskerm. Hy werk in ‘n moeilike terrein – barre woestyn, gevaarlike berge en valleie, ens. Daar moet hy water en voeding vir sy skape kry. Rowers en diewe mag probeer om sy kudde te steel; sy skape kan die prooi van wilde diere word. Die beskerming van sy kudde mag hom sy lewe kos. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:11).

Hierdie misverstand van die rol van die herder het oorgespoel na ons siening van bediening. Vir ons is die Christelike herder iemand wat saggies die kudde hanteer en in al hulle behoeftes voorsien – ‘n terapeutiese en ondersteunende rol. As die Bybelse beeld van die herder korrek is, kort daar iets. Die herder is ‘n vegter – vasberade en sterk. Enigeen wat sy kudde skade wil aandoen, sal dit ontgeld.

Christelike herders moet God se kudde liefhê en versorg, maar hulle moenie bang wees vir konflik nie – hulle moet daarvoor voorberei word.