‘n Nuwe Kategismus: Vraag 10

To be biblically evangelistic, we must be certain that what we do,  leads  men to faith, not just to decisions. —Jim Ehrhard

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 10

Vraag:

Wat verwag God van ons in die vierde en vyfde gebooie.

 

 

Antwoord:

Vierde: dat ons op die sabbatdag ons tyd aan openbare en private aanbidding van God spandeer, rus van ons roetine werk, die Here en ander dien en so die ewige sabbatdag verwag. Vyfde: dat ons ons vader en moeder liefhet en eer en ons onderwerp aan hulle goddelike dissipline en leiding. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Teksgedeelte:

Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en pa. Julle moet my gebooie oor die Sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God (Levitikus 19:3).

 

Kommentaar

Die Woord van God sê vir ons: Die Here is ons God, Hy is die enigste Here (Deuteronomium 6:4). Aanbid een God … jy word aangesê om die Sabbat op ‘n geestelike wyse te onderhou hopende op die toekomstige rus wat die Here beloof het.. Maar ons, ons rus sodat ons kan werk in plaas van werk sodat ons kan rus. Jy word aangesê om jou vader en moeder te eer (Eksodus 20:12). Maar jy beledig jou ouers – iets wat jy tog nie van jou kinders wil verduur nie.

 

In die Heilige Gees, ‘n gawe van God, word ewigdurende rus aan ons belowe. Ons het reeds die belofte daarvan ontvang. Die apostel sê: en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang (2 Korintiërs 1:22). As ons ‘n waarborg ontvang het dat ons in vrede met die Here en in God sal lewe, sal ons ook in Hom, van wie ons die waarborg ontvang het, vir ewig rus. Dit sal die Sabbat van Sabbatte wees … Die gebod oor die Sabbat moet ons op ‘n geestelike wyse erken. Soos in Genesis geskrywe staan, het God die sewende dag geheilig nadat Hy al sy werk gedoen het. God het gerus van sy werk (Genesis 2:2 – 3). Dit was nie omdat God moeg was dat Hy gerus het nie, maar dit is ‘n belofte van rus vir ons soos ons werk. God het gerus sodat jy kan verstaan dat jy ook sal rus … en rus sonder einde.

 

Eer jou vader en jou moeder (Eksodus 20:12). Dit is jou ouers wat jy sien as jy die eerste keer jou oë oopmaak.  As iemand weier om sy ouers te eer, is daar iemand wat hy sal spaar? Verander jou weë Jy het die wêreld lief; jy moet God liefhê. Jy het verbygaande, tydelike plesier liefgehad; jy moet jou naaste liefhê.

 

Hierdie kommentaar is deur Augustinus (354 – 430) die biskop van Hippo in Noord-Afrika, geskryf. Augustinus word as ‘n Heilige en Doktor van die kerk deur beide die Katolieke Kerk en die Anglikaanse Gemeenskap beskou. Hy het ‘n verslag van sy bekering in sy Confessions, sy bekendste werk, geskryf. Hy was een van die vrugbaarste skrywers in Latyn met honderde verskillende titels (insluitend apologetiese werke, boeke oor die Christelike leer en kommentare) en meer as 350 preke wat behoue gebly het.

 

Hierdie kommentaar kom uit “Sermon 9” in Saint Augustine: Essential Sermons, geredigeer deur Daniel Doyle, vertaal deur  Edmund Hill (New York: New City Press, 2007), 27–28, 30–32.

 

Verdere leeswerk:

 “Worship” en “The Family” in Concise Theology, by J. I. Packer.

 

Gebed

By Christus is niks onmoontlik nie. Hy kan harte wat so hard soos ‘n meulsteun is, versag. Hy kan ons hardkoppige wil wat vir jare net op ons eie plesier, sonde en die wêreld ingestel was, buig. Hy kan skep en verander en hernuwe en afbreek en bou en lewend maak met sy onweerstaanbare krag. Laat ons aan hierdie geseënde waarheid vashou en dit nooit los nie … Laat ons bid om die wet van die Sabbat reg te verstaan. Laat ons die dag heilig hou en dit aan God gee.

 

Hierdie gebed is deur John Charles Ryle (1816–1900), die eerste Anglikaanse biskop van Liverpool, geskrywe. Ryle was op aanbeveling van Benjamin Disraeli, die eerste minister, aangestel. Hy was ‘n skrywer en pastor, maar ook ‘n atleet. Hy het vir die Universiteit van Oxford geroei en krieket gespeel. Hy was verantwoordelik vir die bou van meer as veertig kerke

Hierdie gebed kom uit Luke by J. C. Ryle, reeksredakteur Alister E. McGrath (Wheaton: Crossway, 1997), 187.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.