‘n Nuwe Kategismus: Vraag 14

Ambition is like hunger; it obeys no law but its appetite. -Josh Billings,

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 14

Vraag:

Het God ons so gemaak dat dit vir ons onmoontlik is om sy wet te onderhou?

 

Antwoord:

Nee, maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, het die hele skepping in sonde verval.  Ons is almal in sonde en skuld gebore, korrup/bedorwe van aard en nie in staat om God se wet te onderhou nie. [Onderstreepte gedeeltes is die antwoord vir kinders.]

 

 

Teksvers:

Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Romeine 5:12)

 

Kommentaar:

Ek glo dat God aan die begin die hemel en die aarde gemaak het met die verskeidenheid inwoners. Laastens, en uitstaande onder sy verbasende verskeidenheid van skepsels van sy almagtige mag en oneindige vaardigheid … het Hy die mens gemaak en hom meester van hierdie wêreld gemaak. Man en vrou het Hy hulle gemaak, na sy eie beeld, eerlik, onskuldig en heilig; die mens het die vermoë om sy vrygewige Skepper te dien en te verheerlik … ek glo die mens het nie lank in hierdie heilige en gelukkige omstandighede geleef nie; maar, oorgelaat aan die vryheid van sy eie wil het hy die wet  wat sy Skepper en Here gemaak het, oortree. Gevolglik verval hy in ‘n staat van skuld, verdorwenheid en vernietiging. En, omdat hy nie net die natuurlike, maar ook die federale hoof en verteenwoordiger van sy ongebore nageslag was nie, het sy hele nageslag in hom gesondig en saam met hom geval. Die skuld van sy eerste sonde is oorgedra en ‘n verdorwe natuur volg vir almal wat sy nageslag is. Daarom is alle mense van nature kinders van die toorn, teen alles wat geestelik goed is, geneig tot die bose, dood in die sonde onder die vloek van die regverdige wet … Uit hierdie toestand is daar geen verlossing behalwe deur Jesus Christus, die tweede Adam, nie.

 

Hierdie kommentaar is deur Abraham Booth (1734 – 1806), ‘n Engelse Baptiste leraar, geskryf. Hy was pastor van die Prescot Street kerk in Whitechapel, Londen, vir 35 jaar. Hy was ook die stigter van wat vandag die Regents Park College vir die opleiding van leraars in Oxford is. Sy bekendste werk is The Reign of Grace.

 

Hierdie kommentaar kom uit  “Confession of Faith” in Works of Abraham Booth: Late Pastor of the Baptist Church, Volume 1 (London: Button, 1813), xxxi–xxxii.

 

Verdere Leesstof:

 “The Fall” en “Inability” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Ons Vader, as ons u beskrywing van die menslike natuur lees, is ons seker dit is waar, want U het die mense sedert sy sondeval gesien, en U is in u hart bedroef oor hom … dit is vir ons ‘n wonder dat U hoegenaamd na die mens kyk, die haatlikste voorwerp in die skepping, want hy het u Seun doodgemaak, omdat hy herhaaldelik in opstand teen u regverdige en heilige wet kom. Tog, daar is niks wat vir U meer plesier verskaf as om die mens te sien nie, want Jesus was ‘n mens; sy helder heerlikheid bedek al ons sondes; die reinheid en volmaaktheid van sy gehoorsaamheid skyn soos die son te midde van donkerte. Om sy onthalwe is U tevrede en woon in ons … En nou, Here,  vir die paar dae wat nog vir ons oorbly op aarde, laat ons uitroep: “Kyk, die Lam!” Leer ons harte om altyd van u liefde bewus te wees en ons lippe – stel hulle in staat om met U hulp die verhaal van die kruis na die beste van ons vermoë te verduidelik. … Here, vergewe ons ons sondes; Here, heilig ons; Here, lei ons in moeilike tye; Here, voorsien aan ons behoeftes. Die Here leer ons; die Here maak ons volmaak; die Here vertroos ons; die Here maak ons gereed  vir ons ontmoeting vir die wederkoms van sy Seun uit die hemel.

 

Hierdie gebed is deur Charles Haddon Spurgeon (1834 – 1892) geskryf. Hy was ‘n Engelse Baptiste prediker. Hy word die pastor van New Park Church (later die Metropolitan Tabernacle) in Londen toe hy net 20 jaar oud was. Hy het gereeld vir meer as 10 000 mense gepreek sonder enige klankversterking. Hy het baie geskryf. Toe hy dood is het hy amper 3 000 preke gepreek en 49  volumes – kommentare, gesegdes, liedere en dagstukke – geskryf.

 

Hierdie gebed kom uit: “Prayer VII: Let All the People Praise Thee” in Prayers from Metropolitan Pulpit: C. H. Spurgeon’s Prayers (New York, Revell, 1906), 43–47.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.