‘n Nuwe Kategismus: Vraag 29

Far and away the best prize that life offers is the chance to work hard at work worth doing – Theodore Roosevelt

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 29

Vraag:

Hoe word ons gered?

Antwoord:

Slegs deur geloof in Jesus Christus en sy plaasvervangende versoeningsdood aan die kruis.

Al is ons dus skuldig dat ons ongehoorsaam aan God was en al is ons steeds tot die verkeerde geneig, nogtans, sonder enige meriete van ons kant, maar suiwer uit genade, dra God aan ons die volkome geregtigheid van Christus  oor as ons ons bekeer en in Hom glo. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

Skrifgedeelte

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie (Efesiërs 2:8 – 9).

Kommentaar

Omdat ons deur God vrygekoop is, het ons nou vrede met God … Oordeel besluit nou ten gunste van die sondaar, nie teen hom nie. Die geheue kyk terug na die sondes van die verlede met hartseer, maar sonder vrees vir die straf wat kom; Christus het die skuld van sy mense volledig betaal, en het die goddelike kwitansie ontvang; tensy God so onregverdig kan wees en dubbele betaling vir een skuld eis, sal geen siel vir wie Jesus as plaasvervanger gesterf het ooit in die hel gegooi word nie. Dit is een van die beginsels van ons verligte aard om te glo dat God regverdig is – ons voel dit moet so wees. Die feit dat God regverdig is, maak ons bang, maar is dit nie wonderlik dat hierdie selfde geloof dat God regverdig is later die pilaar van ons vertroue en vrede word nie.

 God is regverdig. Ek as sondaar sonder ‘n plaasvervanger moet gestraf word, maar Jesus staan in my plek en word gestraf vir my. As God regverdig is, kan ek as sondaar wat in Christus staan nooit gestraf word nie. God moet sy wese verander voor een siel vir wie Jesus ‘n plaasvervanger was, gestraf kan word. Jesus het die plek van die gelowige ingeneem – Hy het ten volle betaal vir dit wat mense as gevolg van hulle sonde moes gely het. Nou kan die gelowige uitroep: “Wie kan enige aanklag lê teen dié wat God verkies het?” Nie God nie, want Hy het vrygekoop; nie Christus nie, want Hy het gesterf en opgestaan. My hoop lewe, nie omdat ek nie ‘n sondaar is nie, maar omdat ek ‘n sondaar is vir wie Christus gesterf het. My vertroue is nie omdat ek heilig is nie, ek is onheilig, maar Hy het my vrygekoop. My geloof berus nie op wat ek is of sal wees of weet nie, maar in wat Christus is, in wat Hy gedoen het en wat Hy nou besig is om vir my te doen Op die leeu van geregtigheid ry die mooi dame van hoop soos ‘n koningin.

 Hierdie kommentaar is deur Charles Haddon Spurgeon (1834 – 1892), ‘n Engelse Baptiste prediker geskryf. Spurgeon word die pastor van New Park Street Church (later die Metropolitan Tabernacle) toe hy slegs 20 jaar oud was. Hy preek dikwels vir meer as 10 000 mense sonder enige klankversterking. Hy skryf baie en sy gedrukte werke is baie. Toe hy sterf het hy amper 3 600 preke gelewer. Hy het 49 volumes kommentare, liedere en dagstukke geskryf.

 Hierdie kommentaar kom uit  Morning & Evening, Daily Reading by C.H. Spurgeon (Scotland: Christian Focus Publications, 1994).

 

Verdere leesstof

 “Mediation” en “Sacrifice” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed

Almagtige. Ek staan onder die doodsvonnis en moet sterf, maar U is regverdig … Maar is daar niks in u geopenbaarde karakter wat ‘n skepsel en skuldige boosdoener  laat kyk vir genade en hoop en aanvaarding nie?  Is U nie ‘n deernisvolle Verlosser sowel as ‘n regverdige God nie? Is Jesus nie U enigste Seun nie? Het U Hom nie gestuur as versoening deur geloof in sy bloed nie? Na Hom, my enigste toevlug van God se toorn, sal ek vlug … Ek kan nie op u genade aanspraak maak nie. Maar as U dit goedgedink het om die grootste sondaar te verlos; as U dit goedgedink het om oneindige genade aan iemand te gee wat oneindige ellende verdien, hoeveel  groter sal die heerlikheid van U deernis wees … onbeperkte genade sal die heerlikheid hê.

 

Hierdie gebed is deur Abraham Booth (1734–1806), ‘n Engelse Baptiste prediker, geskryf. Hy was die leraar van Prescot Street Church in Whitechapel, London vir 35 jaar. Hy is ook die stigter van wat nou Regents Park College vir die opleiding van leraars in Oxford is. Hy is veral bekend vir sy werk The Reign of Grace.

Hierdie gebed kom uit “The Reign of Grace” in Works of Abraham Booth: Late Pastor of the Baptist Church, Volume 1 (London: Button, 1813), 87–88.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.