‘n Nuwe Kategismus: Vraag 50

. —A.W. Tozer

 

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 50

Vraag:

Wat beteken Christus se opstanding vir ons?

 

Antwoord:

Christus het die sonde en dood oorwin deur sy fisiese opstanding sodat almal wat in Hom glo opgewek word in ‘n nuwe lewe in hierdie wêreld en tot ‘n ewige lewe in die wêreld wat kom. Net soos ons een dag opgewek sal word sal die wêreld eendag herstel word. Maar diegene wat nie op Christus vertrou nie word opgewek vir die ewige dood. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Skrifgedeelte:

Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem (1 Tessalonisense 4:13 – 14).

 

Kommentaar:  

Die statigste stede op aarde, maak nie saak hoe ongelooflik hulle geboue is nie, het steeds hulle fondamente in die stof. Hulle strate is vuil en is gemaak om onder ons voete vertrap te word. Maar die strate in die hemelse stad is suiwer goud, soos deursigtige glas. Die fondamente is van edelstene en die poorte is van pêrels … Daar is baie beginsels teenstrydig met liefde . Dit maak hierdie wêreld ‘n onstuimige see. Selfsugtigheid en jaloesie, weerwraak en jaloesie is verwante passies wat die lewe op aarde in voortdurende beroering hou … Maar watter rus is daar nie in daardie wêreld wat die God van liefde en vrede vul met sy eie genadige teenwoordigheid; waar die Lam van God woon en regeer en dit vul met die helderste en soetste strale van sy liefde; waar daar niks is om te steur en te beledig nie; waar daar geen wese of objek te sien is wat nie deur volmaakte minsaamheid omring word nie … waar daar geen vyand of vyandigheid is nie  – net volmaakte liefde in die hart van elke wese; waar daar volmaakte harmonie tussen al die inwoners is; waar niemand op ‘n ander jaloers is nie, maar waar almal hulle in die geluk van ander verheug; waar liefde wedersyds en ten volle aan mekaar gedoen word; waar daar geen valsheid en huigelary is nie, maar volkome eenvoud en opregtheid; waar daar geen verraad of ontrou of jaloesie van enige aard is nie … waar daar geen verdeeldheid as gevolg van verskillende menings of belange is nie, maar waar ons almal in daardie heerlike en liefdevolle gemeenskap aan mekaar verbind sal wees; waar almal aan mekaar sal behoort en almal mekaar sal geniet in voorspoed en  rykdom en eer sonder enige siekte en hartseer of vervolging en sonder enige vyand om ons te molesteer; sonder enige bemoeisieke mense om jaloesie en misverstand te skep of die volkome, heilige en geseënde vrede wat in die hemel heers, te versteur.

 

Hierdie kommentaar is deur Jonathan Edwards (1703 – 1758), ‘n Amerikaanse koloniale prediker, teoloog en filosoof geskryf. Hy word in 1726 pastor van die kerk in Northampton, Massachusetts. Hy is veral bekend vir sy preek Sinners in the Hands of an Angry God. Hy het ook baie boeke geskryf, onder andere The End For Which God Created the World en A Treatise Concerning Religious Affections. Edwards sterf na ‘n pokke-inenting kort na hy die president van die College of New JerseyI (later Princeton Universiteit) geword het.

Hierdie kommentaar kom uit sy preek “Heaven, a World of Love”, beskikbaar van www.biblebb.com/files/edwards/charity16.htm

 

Verdere leesstof:

 “Resurrection” en “General Resurrection” inConcise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:  

Almagtige God, aangesien ons alreeds in hoop die drumpel van u ewige erfenis binnegegaan het, en weet dat daar verseker vir ons ‘n woning in die hemel is nadat Christus daar ontvang is; Hy is ons Hoof en die eerste vrugte van ons verlossing; gee dat ons meer en meer op die pad van u heilige roeping mag loop totdat ons uiteindelik die doel en so die ewige heerlikheid waarvan U vir ons in hierdie wêreld ‘n voorsmaak deur Christus ons Here  gegee het, bereik. Amen.

Hierdie gebed is deur Johannes Calvyn (1509 – 1564), teoloog, pastor en administrateur, geskryf. Calvyn is in Frankryk in ‘n streng Rooms-Katolieke familie gebore. Hy het die meeste van sy lewe in Genève gewerk. Daar het hy die Gereformeerde Kerk georganiseer. Hy skryf The Institutes of the Christian Religion, dieGeneva Catechism, sowel as vele kommentare van die Skrif.

Hierdie gebed kom uit Calvin’s Bible Commentaries: Ezekiel, Deel II, vertaal deur John King (Forgotten Books, 1847), 304.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.