‘n Nuwe naam vir Jerusalem en die land (Jesaja 62:1-12) – Francois Malan

Hierdie gedig sit die geesdriftige belofte van hoofstukke 60-61 voort, van ‘n vreugdevolle verandering in die samelewing van Jerusalem. Die eerstepersoonswerkwoorde klink asof die Here self aan die woord is, maar uit verse 8 en 11 blyk dit dat die digter-profeet vorige uitsprake van die Here aanhaal.

62:1 Die Here het besluit om die stilte te verbreek. Terwyl dit sleg gegaan het met Israel het dit gelyk asof die Here nie daarvan kennis neem nie, asof die Here afwesig is en nie kennis neem van hulle ellende en gebede nie, en nie omgee wat met hulle aangaan nie (vgl. Jes 42:14a: Ek het lank stilgebly, Ek het geswyg, my bedwing; 57:11b Ek het lank geswyg toe jy My nie meer gedien het nie).

Maar nou,  sê die Here, ‘ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie; ter wille van Jerusalem sal Ek nie stilbly nie (soos ook in Jes 42:14b: nou skree Ek soos ‘n vrou wat ‘n kind in die wêreld bring…) totdat haar geregtigheid/ billikheid in optrede te voorskyn kom soos ‘n ligglans (nogah – dit is ook die naam van die môrester Venus), en haar verlossing (deur die Here) soos ‘n brandende fakkel.’ Die Here is aan Jerusalem toegewy, sodat die billikheid in Jerusalem se samelewing deur die wêreld gesien kan word, hoe die lewenswyse van mense wat deur die Here verlos is die nasies kan verlig.

62.2 Die nasies sal jou (vroulike vorm, vir die stad Jerusalem) geregtigheid sien, al die konings sal jou eer (vir jou goeie manier van lewe), en jy sal genoem word met ‘n nuwe naam wat deur die mond van die Here aangedui sal word. In 60:14,18 is ‘n nuwe naam vir die stad genoem: Stad van die Here; Sion van die Heilige van Israel (wat aan Israel toegewy is). Die ou naam van Jerusalem is deur die modder gesleep deur hulle onheilige lewe voor en na die ballingskap. Die nuwe naam word in vers 4 gegee. In 1:26 is reeds voorspel dat die stad eendag, ná die suiwering deur die Here, genoem sal word: Stad van Geregtigheid, Getroue Stad (Jerusalen beteken ‘die Grondvesting/ Fondament van God.’  In Ps 76:3 word Sion/Jerusalem geïdentifiseer met Salem ‘vrede’ soos in Genesis 14:18).

Die nuwe naam sal uitdrukking gee aan hulle nuwe identiteit, nuwe verhoudings en ‘n nuwe geleentheid om voor die wêreld anders te lewe (vgl. 58:12: Jy sal bekend staan as ‘n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon).

62:3 En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die Here, ‘n koninklike tulband in die holte van die hand van jou God – die versiering van Jerusalem kom direk van die Here, uit sy hand. Die sierlike kroon  en koninklike tulband vertoon die koninklike heerskappy van die Here in die stad se samelewing.

62:4 ‘Vir jou (Jerusalem) sal nooit weer gesê word ‘ezubah ‘Verlate Vrou’ nie (Jer 30:17 letterlik: ‘Verstoteling’) en vir jou land sal nooit weer gesê word: ‘Verwoeste’ (land) nie, want vir jou sal Ek noem Cheftsi-bah ‘My vreugde is in Haar,’ en jou land Be‘ulah Eggenote/Gemalin/Besitting,’ want die Here verheug Hom oor jou en het jou land as vrou in besit geneem.’ – Die inwoners van Jerusalem is deur die nasies verneder met hulle spotnaam dat hulle deur die Here verlaat is soos ‘n man wat sy vrou verlaat het (vgl Nehemia 2 :17). Dat die Here nou met die land getroud sal wees is ‘n beeld wat gebruik is vir Baäl as die besitter, en heerser oor die land se vrugbaarheid (die naam Ba‘al ‘besitter/eienaar/man’ kom van dieselfde stam as Be‘ulah). Die nuwe name beskryf  die nuwe posisie van Jerusalem. Die snedige opmerkings deur die nasies dat sy deur haar man verlaat is, word stil gemaak deur haar trouring en haar getroude naam wat sy met trots dra deur haar nuwe soort samelewing – sy behoort aan die Here en die droogtegeteisterde en onvrugbare land word weer vrugbaar en produktief.

62:5 ‘Want soos ‘n energieke/sterk jongman ‘n maagd  tot sy vrou as besitting neem (ba‘al) so sal jou seuns jou in besit neem, en soos ‘n bruidegom verheug is oor ‘n bruid is jou God verheug oor jou.’  Die gedig eindig met ‘n liriese verklaring van vreugde soos ‘n bruid en bruidegom wat oorborrel van blydskap, soos in 61:10. Die huweliksmetafore het in die antieke wêreld vrugbaarheid en voortplanting gesimboliseer. Israel as volk sal weer ‘n geliefde word onder die nasies. Jerusalem as ‘n stad sal weer opgebou word. Die bevolking sal weer trou en vrugbaar die land vul met mense en werk, as die Here se nuwe skepping.

62:6-12 Die aankondiging van die herstel van Jerusalem word hier uitgebrei met 5 kort digterlike elemente in twee pare: verse 6-7 en 10, en dan 8-9 en 11, plus ‘n slot v12.

62:6-7 Die eerste gedig gaan oor die opbou van die stad. Die beeld van poorte in 60:11 word weer gebruik maar met ‘n ander betekenis. In 60:11 moes die poorte oop bly om die stroom mense en goedere te laat deurgaan. Hier moet die wagters nie die poorte bewaak nie. Hulle taak is om die Here sonder ophou te herinner aan Jerusalem se behoeftes en die Here se verantwoordelikheid teenoor sy stad, totdat die stad in volle glorie opgebou is, sodat die wêreld die Here sal prys oor sy nuwe skepping. Die ‘wagters op die mure’ moet die Here gedurig in gebed herinner om die stad en sy mense te motiveer om te bou en in vrede met mekaar te lewe soos Hy dit wil hê. In dié tyd het Nehemia die volk aan die werk gekry om die mure op te bou (met wagte wat die werk moes bewaak. Neh 4:9 ), en 3 jaar later het hy teruggekom om die godsdienstige en sedelike lewe van die volk terug te lei na die Here toe (Neh 13:6).

62:8-9 Die tweede van die vyf gedigte gaan oor die Here se hand oor die landbou. In Deutr. 28:33 en 51 is die straf van die Here op die oeste uitgespel as Israel nie luister na die Here hulle God nie: hulle vyand sal die aanteel van hulle vee en die opbrengs van die land, koring, wyn en olie met geweld van hulle wegneem en hulle ondergang bewerk (vgl. Amos 5:11). Nou belowe die Here dat Hy nie meer hulle oeste aan hulle vyande sal gee nie, maar dat hulle dit self sal kan gebruik (vgl Pred 2:24-26; Amos 9:11). Dit sal Israel daartoe bring om die Here te loof en te dank vir hulle oeste en hulle laat terugkeer na die erediens, om hulle dank in die heiligdom van die Here te kom betuig.

62:10 Die derde gedig handel oor die begaanbaarheid en veiligheid van die paaie wat na Jerusalem toe lei. Daar word aangesluit by verse 6-7 se poorte, maar die oproep hier tot die volk is om by die poorte uit te gaan, die paaie te gaan herstel vir die nuwe volk van die Here, en ‘n banier vir die nasies op te rig wat hulle die pad sal wys na Jerusalem toe, waar hulle moet kom versamel en kom leer hoe die Here gedien moet word deur ‘n regverdige samelewing.

62:11 Die vierde gedig sluit weer aan by verse 8-9 se loon op die arbeid.  ‘Die Here het  tot aan die einde van die aarde laat hoor’  – dit sluit alle nasies in, hulle moet  vir die dogter van Sion – vir die Israeliete – sê: ‘Kyk! (let fyn op) jou verlossing kom, kyk! sy beloning is met Hom en sy loon voor Hom.’ Hulle verlossing word gesien as ‘n beloning vir die swaarkry. Die verlossing het ook ‘n klomp bydraes ingesluit deur die koning en die volke vir die opbou van die tempel en die tempeldiens, vir die opbou van die mure van die stad  en die opbou van die gemeenskap (Esra 6:4-5, 8-10 met Serubbabel; 7:15-20 met Esra 80 jaar later, Neh 2:8; 5:14,17-18 deur Nehemia nog 13 jaar later). Israel se verlossing en die Here se seën oor hulle bevestig die Here sy toewyding aan Israel.

62:12 Die vyfde gedig sluit die reeks af met ‘n naamsverandering wat uibrei op verse 2 en 4 se naamsveranderings. Hierdie viervoudige vorm van die naamsverandering gaan alles oor verhoudings en oor die Here. Die lewe in Jerusalem word definieer deur hulle verhouding tot die Here. So wys die nuwe naam na ‘n herstelde verhouding: Die volke sal hulle noem:  ‘n heilige volk– dit  beteken hulle is geheel en al aan die Here toegewy, ‘n volk wat aan die Heilige van Israel behoort; die Losgekooptes van die Here – losgekoop uit die slawerny van die ballingskap en uit hulle sonde  (vgl. Eks 6:6; Jes 43:3 en die Jubeljaar  Lev 25).  Derusja Gesogte – ‘n Stad waarna gevra, gesoek en uitgesien word en hoog op prys gestel word as die stad wat deur die Here uitgesoek is; ‘n Stad wat nie deur die Here versaak is nie, maar nou ten volle deur die Here omhels word. Die stad kan nuut begin as gevolg van die Here se volgehoue en ryke toewyding aan hulle.

Skrywer:  Prof Francois Malan