‘n Nuwe Naam

‘n Nuwe Naam – Francois Malan

Clive vra: 

Die beloftes aan die gemeente van Filadelfia is onder andere “..En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. ” Wat sou die nuwe Naam wees/ beteken ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Openbaring 3:12,13 ‘Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op Hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

Christus sal drie dinge skryf op die gelowiges wat steeds oorwin oor die beproewings van hulle geloof: die naam van sy God, die naam van God se stad, en Christus se eie nuwe Naam. Die drievoudige inskripsie op die pilaar (dit is die standvastige gelowige) in die hemelse tempel verseker dat

(i) die gelowige God se eiendom is (vgl. Num 6:22-27 se seën wat die priesters uitspreek, met die Naam Here drie maal herhaal, telkens met sy werke aan ons – vir ons van die Nuwe Testament klink dit na die werke van die Vader se sorg, en die Seun se genadige verlossing en die Heilige Gees wat vir ons tree en vrede gee),

(ii) ‘n burger van die nuwe Jerusalem is (vgl. Eseg 48:35 die naam van die stad met 12 poorte vir almal van die volk van die Here om in te kom: Die Here is daar),

(iii) wat op ‘n besondere intieme wyse aan die opgestane Christus verbind is (vgl. Rom 6:5 ‘aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding).

Openbaring 19:12 sê: daar was ‘n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Ons sal moet wag tot by Christus se wederkoms om sy nuwe Naam te hoor, wat die nuwe rol sal wees wat Hy dan sal speel. 3:12 sê: die nuwe Naam van Christus sal op elke gelowige geskryf wees om hulle identiteit as God se eiendom aan te dui (vgl. 7:3 en 14:1), en so elkeen se nuwe rol in die ewige lewe aandui.

Openb. 19:13 sê sy huidige Naam is ‘Die Woord van God.’ Eers by sy wederkoms sal ons regtig hoor wat die nuwe Naam van Christus is. Hierdie nuwe Naam sal op elke gelowige geskryf wees. Hulle sal die pilare in God se nuwe tempel wees. In ons huidige bedeling, waar ons nog wag op sy wederkoms, is dit vir die gelowiges genoeg om te bely dat Jesus Christus, die Seun van God is, die opgestane Here en Verlosser – daarom dra ons die naam Christene, en die Heilige Gees is besig om ons te verander om soos Christus te word (2 Kor 3:18), om met sy gesindheid van nederige liefde teenoor mekaar te lewe (Filippense 2:1-11).

 

Skrywer: Prof Francois Malan