‘n Nuwe soort apologeet

 

If Christianity was something we were making up, of course we could make it easier – C. S. Lewis

 

‘n Nuwe soort apologeet

[Apologeet is ‘n verdediger van ‘n geloof, veral die Christendom.]

Apologetiek ondersoek die redelike basis vir die Christelike geloof en hanteer die algemene besware wat mense teen die Christelike geloof het. C. S. Lewis het gesê dat alle Christene apologete is. Die vraag is nie of ek ‘n apologeet is nie, maar watter soort apologeet ek is.

 

Geskiedkundig word apologete as arrogant gesien – onwillig om te luister en nie ingestel op verhoudings nie. Dit is die stereotipe van iemand wat vasberade is om ‘n argument te wen – meganies, arrogant en sonder empatie. Ware apologete moet die verstand en die hart aanspreek. Hy is ook nie die een wat al die praatwerk doen nie – sy eerste taak is om te luister.

 

Tim Muehlhoff stel vier vrae voor om te oorweeg as jy ‘n gesprek met iemand van ‘n ander geloof voer.

 

  1. Wat glo die persoon?

Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande (Spreuke 18:13). Meeste apologete voel dat hulle meeste van die praatwerk moet doen. Hulle sukkel met “agenda-angs” – ‘n angs om alle punte oor te dra. Begin deur te luister en vind uit wat die ander persoon werklik glo.

 

  1. Hoekom glo hierdie persoon?

Ons oortuigings en passie het gewoonlik ‘n geskiedenis wat ons kan terugvoer na die invloede van die familie, persoonlike ondervindings en invloedryke persone. Hy stel ‘n paar moontlike vrae voor: Hoekom dink jy so? Wie het jou oor hierdie sake beïnvloed? Watter boeke/flieks het jou perspektief gevorm? Stem jou en jou ouers se perspektief ooreen?

 

  1. Waar stem ons saam?

Vergelyk, as voorbeeld, die Bybel en die Koran. As ons dit doen, sien ons tot ons verbasing dat beide gelowe waarde aan sekere sleutelvrae heg: Hoe is God? Wie is Jesus? Wat is ons verantwoordelikheid teenoor die armes? Wat is die rol van Gebed? Is daar ‘n finale oordeel? Net so sal ons in gesprekke van mense wat van ons oor geloof verskil, sekere punte kry waaroor ons saamstem.

 

  1. Gegrond op hierdie kennis, hoe moet ek verder gaan?

Met al die kennis tot jou beskikking, is die groot vraag: met hierdie persoon op hierdie tyd en onder hierdie omstandighede, wat is die een ding wat ek moet sê? Let wel: nie drie of vier dinge nie, maar een ding.

 

Watter soort apologeet is jy? Een wat weghardloop van die taak om oor jou geloof te praat? Jy is steeds ‘n apologeet – een wat ondoeltreffend is en onwetend ‘n boodskap uitstuur wat nie juis help nie. Miskien is jy een wat gou in ‘n argument betrokke raak. Miskien is daar beter modelle om te oorweeg. Hulle begin met luister.