‘n Oorywerige geloof (2)

 

We have drifted away from being fishers of men to being keepers of the aquarium – Paul Harvey

 

‘n Oorywerige geloof (2)

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Jesus speel die Fariseër kaart onder andere in sy bergrede. Om te wys dat dit onmoontlik is om toegang tot die hemel te verdien, verwys Hy na ‘n aantal bekende morele standaarde in die wet van Moses – by elkeen voeg Hy ‘n hoër standaard by – onmoontlik om te bereik.

 

Hy gebruik die formule: Julle het gehoor … maar Ek sê vir julle. Hy gebruik ses gebooie wat hulle gedink het hulle kan nakom en vervang dit met ‘n standaard wat hulle nie sou bykom nie. Jesus sê dat ons dade nooit regverdig genoeg is om ons in die hemel te kry nie. Hy volg dit op met twee onmoontlike stellings

  1. As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie (Matteus 5:20)
  2. Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Matteus 5:48).

 

Hierdie stellings het sy hoorders ontstel. Hulle kon tog nie so volmaak soos hulle Vader wees nie. Hulle sou die Fariseërs moes verbygaan – die regverdigste van alle mense! Onmoontlik. Jesus wou hê dat hulle moes besef dat op hulle eie hulle dit nie sou regkry nie. Hy sou dit vir hulle moes doen.

Paulus speel ook die Fariseër kaart. Hy gaan terug na sy verlede en wys vir die mense dat hy op ‘n stadium ‘n Fariseër was. Dan sê hy dat al die voordele van ‘n Fariseër wees, is waardeloos in vergelyking met om in Christus te wees. Dit sou sy lesers geskok het. Die Fariseërs se toewyding was buitengewoon en Paulus sê dis niks werd nie.

Hoekom is dit so belangrik? Die Fariseërs was geestelik indrukwekkend. Daarom is ons dikwels blind vir die gevaar om soos hulle te wees. Ons glo dat transformasie van passievolle verdedigers van God na vyande van God nie met ons kan gebeur nie. Ons kan tog welsprekend praat van God en die Skrif; Hom loof en verdedig. As Hy verskyn in maniere wat ons nie verwag en waarmee ons nie saamstem nie of wat ons ongemaklik maak, kan ons teen Hom veg. Dit is dikwels baie kort reis van ywerig vir God te wees na onbewustelik teen Hom te wees.

 

Is dit die einde van die pad? Nee. Vir sommige was dit net ‘n tydelike ompad. Hulle oë gaan oop. Dink aan Nikodemus en Saulus. Mense kan tot hulle sinne kom, en terugkeer na Jesus Christus.