‘n Sabbatsreis

‘n Sabbatsreis – Coen Slabber

[Ons het reeds in vorige artikels na die Sabbat in die Ou en Nuwe Testamente gekyk.]

Volgens HAT is ‘n sabbatsreis “’n kort reisie.” Maar waar kom die woord vandaan?

In Eksodus 16:22 – 30 lees ons van reëlings vir die Sabbat. Die volk het op die sesde dag ‘n dubbele porsie manna ontvang, want op die Sabbat sal daar geen manna wees nie. Die mense wat wel uitgegaan het om manna te soek, het niks gekry nie. Die Here sê toe vir Moses: Ek het vir julle die Sabbat gegee en daarom gee Ek vir julle op die sesde dag genoeg kos vir twee dae. Elkeen moet bly waar hy is en niemand mag op die sewende dag sy woonplek verlaat nie. Uitgebreide reise op die Sabbat word as werk beskou en dus verbied. Hulle het wel reise op die Sabbat toegelaat, maar dit beperk tot 2 000 el (ongeveer 900 meter).

Waar kom hierdie afstand vandaan? In Josua 3 lees ons van Israel wat deur die droë bedding van die Jordaan-rivier trek. Die priesters wat die ark dra, het voor geloop: Maar laat daar ‘n afstand van omtrent twee duisend el tussen julle en hom wees (vers 4 – OAV). Die NAV praat van ‘n behoorlike afstand … omtrent nege honderd meter. ‘n El is gemeet van die voorvinger tot by die elmboog en was ongeveer 68,58 cm lank. Ons lees ook dat  rondom die stede van die Leviete ‘n strook van ten minste 450 meter wyd buite die stadsmuur afgemeet moet word. Dit is die weiveld wat aan die Leviete behoort (Numeri 35:4 – 5). Die Leviete kon dus na die grens van hulle weiveld en terug geloop het op die Sabbat. Nege honderd meter was die verste afstand wat ‘n Jood op die Sabbat mag reis om te aanbid of om sy diere te voer.

In Handelinge 1:12 lees ons spesifiek van ‘n sabbatsreis: Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, ‘n sabbatsreis ver. Josefus sê dat dit ‘n afstand van tussen 900 en 1 200 meter ver is.

Die rabbi’s het later hierdie afstand verdubbel. Jy moes egter kos vir twee maaltye saam met jou neem. Die een maaltyd eet jy halfpad en die ander een begrawe jy. Hierdie plek word dan jou tydelike woonplek. Later is ook bepaal dat jy die hele dorp as jou woonplek kon beskou. Die afstand word dan van die grens van die dorp gemeet. Jy kon ook die tabernakel of tempel besoek as jy in die kamp of stad was – maak nie saak wat die afstand was nie.

In Jesus se profetiese rede in Matteus 24 lees ons van die groot verdrukking. Mense moet vlug. Bid dat julle nie in die winter of op ‘n sabbatdag hoef te vlug nie (vers 20). Dit is waarskynlik ‘n aanduiding van hoe Joods die eerste lesers van hierdie evangelie geleef het. Hulle het steeds die Sabbat onderhou – hulle kon slegs ‘n kort afstand vlug. Maar dit mag ook wees dat hulle juis as gevolg van hulle vlug dit duidelik sou maak dat hulle volgelinge van Jesus is. Hulle sou dus min hulp van die Jode kon verwag.

‘n Sabbatsreis verwys dus na ‘n ou Joodse tradisie wat werk op die Sabbat verbied het.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber