‘n Simbool van Christus

 

It is misleading to say that God accepts us the way we are. Rather he accepts us despite the way we are. —Sinclair Ferguson

 

‘n Simbool van Christus

As jy ‘n simbool uit die natuur moes kies om jou te beskryf en te definieer, wat sou jy kies? ‘n Berg as teken van betroubaarheid; ‘n roos as teken van skoonheid; ‘n hings as teken van krag … Jesus kies ‘n graankorrel. ‘n Klein saadjie waaraan ons nie baie dink en raaksien nie … en een wat doodgaan!

Dit verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe bring hy  ‘n groot oes in (Johannes 12:24).

Jesus sê hiermee vir sy volgeling dat Hy moet sterf as Hy meer as net ‘n handjievol volgelinge wil hê.

 

  • Die koringkorrel

Aanvanklik kan ons nie dink dat ‘n koringkorrel ‘n gepaste simbool van Christus se persoon en werk kan wees nie. Christus lyk dikwels vir mense klein en magteloos. Maar soos die graankorrel was daar “onder” sy menslikheid ongelooflike mag, waarde, bruikbaarheid en potensiaal – soos die graankorrel.

 

  • Die val

Jesus was op hierdie stadium gewild, maar Hy staan voor ‘n feit: dit was ‘n klein en kort opwelling van belangstelling. Vir die ewige voordeel moet hierdie graankorrel in die grond val en sterwe. Christus se hele lewe was een van vernedering. Hy daal uit die hemel neer na die aarde; Hy kom uit die warm omhelsing van God na die wrede hande van mense. Uiteindelik word alle beperkings verwyder en Hy kom by Getsemane en die kruis uit.

 

  • Die dood

Soos die graankorrel val Jesus nie op die grond nie, maar in die grond. Hy verdwyn; ons kan Hom nie sien nie; Hy is begrawe in die grond. Dood.

 

  • Die oes

As ‘n koringkorrel gesaai word, lyk dit asof hy dood is Alhoewel die korrel vir ‘n tydperk vergete is, sal die korrel ontkiem. Sonder daardie “dood” bly die koringkorrel net een. Deur sy dood word die lewe weer vrygestel en hy vermenigvuldig. So kan ons ook een van die graankorrels wees wat deur Jesus se dood vermenigvuldig word. Elke saad wat gesaai word, is ‘n herinnering dat die Gewer van lewe moet sterwe.

 

Dit geld nie net vir Christus nie, maar vir alle gelowiges. In net die volgende vers pas Jesus hierdie waarheid op sy dissipels toe: Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit;  en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou (Johannes 12:25).

 

Jy kan jou lewe liefhê; jy kan vir jouself lewe. Maar dan bly jy net een; jy sal jou lewe verloor. Of jy kan in die grond val en sterf van jou sonde. Die resultaat hiervan is die oorvloedige ewige lewe vir jou en ander. Ons sal selfs ‘n oes kry as ons bereid is om in die grond te val en te sterwe.