‘n Tiende: Wat beteken dit? – Hermie van Zyl

Celestè vra:

Ek wil graag die tiende of 10% van jou inkomste en die offerande beter verstaan.

Ek wil graag weet as jy inkomste verdien en jy kry ‘n sekere bedrag en die besigheid trek WVF (UIF) en polisgeld af, van watter bedrag bereken mens dit? Eers na al die aftrekkings op jou salaris of voor dit?

Dan wil ek graag ook weet, as jy ‘n groot som geld erf en jy hoef vir ‘n baie lank tyd nie te werk nie, as jy reg werk met die geld want dit is miljoene, hoe werk die tiende en offergawes dan? Gee jy een slag jou tiende wanneer jy die groot som geld kry of deel jy daai geld op om elke maand ‘n deel te gee?  Help my asb reg.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

 

‘n Mens kan vreeslik letterlik oor die sogenaamde tiendes in die Bybel redeneer of mens kan dit soepeler hanteer. Ek sal niemand kwalik neem wat die letterlike weg opgaan nie; as dít jou gemoedsrus gee, doen dit so. Maar die probleem is dat mens dan voor allerlei stekelrige vrae te staan kom, soos ons vraesteller inderdaad noem. Want ons samelewing vandag verskil drasties van die Israelitiese samelewing waarin die tiendes ontstaan het. Daarom dink ek moet mens die kwessie van “tiendes” of ons geldelike offer aan die Here meer in ooreenstemming bring met die bedoeling daarvan sodat dit sin maak in vandag se omstandighede. In elk geval is daar reeds aanduidings in die Bybel self van aanpassings hieroor van Ou Testament na Nuwe Testament, aanpassings wat die gees van die “tiendes” beter na vore bring. Ek sluit my graag by hierdie aanpassings aan; ek dink dis Bybels geregverdig; en ek dink dit lê nader aan die hart van hoe die Here kyk na ons geldelike bydraes as wat mens bloot op ‘n wettiese manier ‘n tiende probeer bereken en daarmee is dit klaar. Ons “tiende” is immers ‘n hartsaak, dis deel van ons geestelike lewe, ons verhouding met God; dis ‘n manier waarop ek die Here dien; dis nie sommer net ‘n pligpleging wat afgehandel word sonder om daaroor te dink nie. Laat ek probeer verduidelik.

Die wortels van die tiendes lê in die Ou Testament. Dit was deel van die belasting aan die koning sowel as van die instandhouding van die tempeldiens (Leviete en priesters). Verder het dit ook gedien om die armes te versorg. Die vernaamste vorm van tiendes was landbouprodukte, maar dit kon ook in geld omgesit word. Die belangrikste tekste in hierdie verband is Lev 27:30-33; Num 18:21-32; Deut 12:5-18; 14:22-29; 1 Sam 8:15,17. Hiervolgens was daar nie ‘n groot onderskeid tussen die algemene belastingstelsel van die staat en die onderhouding van die godsdienstige lewe rondom die tempel in Jerusalem nie. Dit was alles ineengevleg. Ons moet onthou dat Israel ‘n teokrasie was. Dit beteken dat die konings as “seuns van God” gesien is; hulle het namens God regeer. Paleis en tempel was dus net twee aspekte van dieselfde stelsel. Die koning en die priesters het ten nouste saamgewerk tot die welwese van die samelewing. Natuurlik was daar van tyd tot tyd spanning tussen die twee. Normaalweg kon die konings nie sommer maak wat hulle wou nie; hulle het die priesters se samewerking nodig gehad. En die priesters was weer afhanklik van die koning se goedgesindheid. Dit was ook min of meer die situasie by die omringende heidenvolke.

Die belangrike punt is egter dat die tiendes gesien is as die volk se offerandes aan die Here; dit was deel van hulle normale godsdienstige lewe, uitdrukking van hulle dankbaarheid vir wat die Here vir hulle gegee het, en teken daarvan dat alles wat hulle het, eintlik aan die Here behoort. En dít behoort steeds ‘n belangrike faset van ons diens aan God te wees: dankbaarheid, en die besef dat alles aan God behoort.

In die tyd van die Nuwe Testament tref ons nie net die tempel aan nie, maar ook die sinagoge. Tempel en sinagoge het toe reeds vir ‘n lang tyd langs mekaar bestaan as die twee groot godsdienstige instellings in Israel. In 70 nC het die tempeldiens egter tot ‘n einde gekom met die vernietiging van die tempel deur die Romeine tydens die Joodse opstand van 66-70 nC. Tog het die val van die tempel nie die tiendes tot ‘n einde gebring nie. Dit het steeds bly voortbestaan as ‘n godsdienstige praktyk. Nou was dit egter meer gerig op armsorg en die instandhouding van die sinagoges.

Uit hierdie paar opmerkings kan ons aflei dat die tiendes in die OT opgeneem was in die groot teokratiese sisteem van staat en godsdiens. Dit was ‘n vorm van belasting aan die koning en tempel, maar met sterk godsdienstige ondertone. Toe Israel nie meer ‘n koning gehad het nie en die tempel ook later verdwyn het, het die godsdienstige aspekte van die tiendes sterker na vore getree. Maar so het die beginsel van ‘n letterlike tiende ook in die gedrang gekom, want daar was immers nou ander belastings as net die tiendes ter sprake, bv aan die Romeinse heersers. Dis ook interessant dat daar in die vroeë Christelike kerk vir ‘n lang tyd geen geldelike ondersteuning vir die kerklike ampte was nie. Geleidelik het die voorbeeld van die Joodse sinagogale stelsel egter die kerk ook daartoe gebring om die “tiendes” as ‘n gereelde praktyk oor te neem. Die klem het egter altyd op vrywilligheid en die regte gesindheid geval. Dit het die hele gedagte van die formele tiendes van die OT ‘n nuwe interpretasie en aansig gegee, waarop ons steeds kan bou vir ons eie tyd.

Dis interessant dat ons nêrens in die NT iets kry wat ons herinner aan die OT stelsel van die tiendes nie. Maar ons kry wel waarskuwings teen geldgierigheid, aanmoedigings om nie bekommerd te wees oor wat ons sal eet of drink of aantrek nie, opdragte om ander wat in nood is by te staan, en veral om vir die gelowiges te sorg. Maar daar is nêrens iets wat lyk op die tiendes van die OT nie. Die redes hiervoor is redelik voor die hand liggend: die kerk het nie net onder die Jode bestaan nie, maar in verskillende lande om die Middellandse See. Omstandighede het dus te veel verskil om ‘n eenvormige sisteem te hê soos in oud-Israel. Verder was die tempel ook nie meer die fokuspunt nie; dit was nou die gemeentes van Christus, almal met uiteenlopende omstandighede. En dan was alle klem op liefde, omgee en barmhartigheid, waar elkeen moes bydra volgens eie omstandighede en vermoë. Omdat hierdie beginsels so pragtig geïllustreer word in Paulus se hantering van die Korintiërs se liefdesgawes vir die Jerusalem-gemeente (2 Kor 8-9), gaan ek ‘n paar hiervan uitlig.

 

Uit watter motief gee ons geldelike bydraes aan die kerk?

Die liefdesmotief staan baie sterk. In 2 Kor 8:4,8-9; 9:5 is dit baie duidelik dat die gelowiges in Korinte moet gee uit liefde vir die gelowiges in Jerusalem. Hulle harte gaan uit na laasgenoemdes. En hulle word daaraan herinner dat as hulle so optree, hulle die gesindheid van Jesus vertoon – Hy wat, hoewel Hy ryk was, ter wille van ons arm geword het. As daar dus nie hierdie gesindheid van dankbaarheid oor wat Christus vir ons gedoen het, en van liefde en erbarming vir hulle wat swaarkry, aanwesig is nie, moet ons onsself ondersoek; dan gee ons dalk uit verkeerde motiewe.

 

Met watter doel gee ons?

Uit 2 Kor 8-9 tree die nood van die Jerusalemse gemeente sterk na vore. Die Korintiërs gee om ander gelowiges wat in nood is, te help. Hier word dus direk aangesluit by een van die OT motiewe van die tiendes, naamlik armsorg. Daar is egter ook ‘n ander aspek, naamlik instandhouding van die kerk en sy werkers. Hoewel dit nie in 2 Kor 8 en 9 staan nie, kom dit wel voor in gedeeltes soos 1 Tim 5:18 en Matt 10:10, naamlik dat die arbeider sy loon werd is, ook hulle wat in die Here se wingerd arbei. Om sulke voltydse arbeiders te hê, kos geld, want hulle moet ook leef. Predikante en ander geestelike werkers se traktement (soos dit in kerklike taal bekendstaan) is dus eintlik bedoel om hulle sover as moontlik van die gewone aardse sorge te vrywaar sodat hulle voltyds en voluit in die kerk se diens kan staan. Want juis so – onder andere – kan die Here se koninkryk op aarde gebou word.

 

Hoe gee ons?

2 Kor 8:12 dwing nie ‘n spesifieke persentasie af nie, maar sê: volgens vermoë. Die rykes sal meer gee, die armes minder. Elkeen gee soos wat hulle kan bekostig. Die Here verwag nie van ons om te gee wat ons nie het nie. Hy sien in elk geval die hart aan, en daarvolgens aanvaar Hy die gawe. Daarom is die verhaal van die arm weduwee (Mark 12:41-44) so aangrypend. Sy het nie baie in die offerkis gegooi nie, maar God het dit raakgesien, want sy het eintlik alles gegee wat sy het. God het haar hart van liefde raakgesien. En dit bring ons by een van die belangrikste aspekte van ons offergawe: dit moet ‘n aanduiding wees van ons liefde en dankbaarheid teenoor God en naaste. God wil nie ons gawes hê as ons met ‘n beswaarde hart gee nie. Dit moet ‘n teken wees daarvan dat ons lewe aan Hom behoort. Daarom kan dit nie te min wees nie; nie sommer ‘n vinnige gebaar uit die agtersak wat ons nie eens voel nie. Nee, dit moet ‘n bietjie “seermaak”, dit moet ‘n offerande wees. Ons moet daaroor nadink, dit bereken, dit ‘n saak van gebed maak, dit met God uitmaak. En dan moet ons met ‘n blye hart gee (2 Kor 9:7). Só ‘n bydrae, so ‘n offer, is vir God aanneemlik.

 

Wat is die vrug van ons geldelike bydraes?

Wanneer mens gee soos hierbo beskryf, spruit daar ‘n heerlike vrug voort. Eerstens word daar bande gebou tussen gelowiges (2 Kor 9:13-14). God dwing ons partymaal deur allerlei swaarkry na mekaar toe. Deur mekaar te help, leer ons dat die kerk – maar ook die ganse menslike spesie – één is. Ons kan nie afsonderlik leef van mekaar nie. Soos iemand (meer in politieke verband) gesê het: Jy kan nie rustig slaap as jou buurman honger is nie. Christene wag egter nie eers vir ‘n slegte re-aksie nie, maar tree pro-aktief op. Omdat ons God se liefde verteenwoordig, sien ons mekaar se nood betyds raak en raak ons betrokke. God het immers by ons nood betrokke geraak. Tweedens, deur te gee leer ons een van die belangrikste lewenslesse: ons ontvang. Slegs deur te gee, ontvang ons. Wanneer ons ons hart en hand oopmaak, ontvang ons baie meer as wat ons gegee het (vgl 2 Kor 9:6,8,10-11). Deur te gee, betree ons die sfeer van die Goddelike, bereik ons ons ware bestemming as mense. Anders is ons net selfsugtig op onsself gerig.

Dus, ons geldelike offerandes is nie iets wat kil bereken kan word nie. Dit is in ‘n groot mate die barometer van ons geestelike verhouding met God en medemens. Kyk net wat het die manier waarop die Fariseërs met die tiendes omgegaan het vir hulle in die sak gebring – felle kritiek van Jesus. Die Fariseërs het verder gegaan as wat die Skrif vereis en ook tiendes van kruisement, anys en koljander gegee. Maar Jesus sê dat ten spyte hiervan hulle die vernaamste van die wet nalaat, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matt 23:23). Dit wys dat tiendes inderdaad ‘n barometer van ons geestelike lewe is.

Vanuit bostaande uiteensetting behoort dit duidelik te wees dat ons nie meer in ons geldelike bydraes aan die kerk in terme van die OT tiendes kan redeneer nie. Ja, die motivering daaragter – simbool van ons verhouding met God – is nog steeds dieselfde. Maar die berekening kan ons nie meer so doen nie. Daarvoor moet 2 Kor 8-9 eerder ons rigsnoer wees, soos hierbo uiteengesit. En as dít gebeur, skuif die vrae van ons vraesteller al meer op die agtergrond ten gunste van ander, belangriker oorwegings.

Ek sou dus eerder my berekenings doen met bostaande in gedagte as om my te veel te steur aan presies hoeveel ‘n “tiende” vandag nou eintlik is of hoe dit bereken moet word.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl