‘n Verskeidenheid temperamente

. —Henry Wilkinson

‘n Verskeidenheid temperamente

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Mense ervaar lyding  op verskillende maniere, nie net as gevolg van eksterne faktore nie, maar ook as gevolg van interne faktore soos  verskillende persoonlikhede en temperamente van diegene wat die lyding ondervind.

Daar is verskillende maniere waarop mense reageer op lyding:

 

  • Isolasie – ons bou ‘n muur tussen ons en selfs ons beste vriende. Lyding maak van jou ‘n ander persoon. Maar isolasie kan ook die gevolg wees van vriende wat wegbly – hulle weet nie wat om te sê of te doen nie of hulle is bang hulle word by jou lyding ingetrek. Ander bly weg, want hulle voel die persoon wat swaarkry het dit oor homself gebring. Job se vriende was oortuig dat Job se lyding die gevolg was van iets wat hy verkeerd gedoen het. Daar is nog ‘n rede waarom mense wegbly van iemand wat swaarkry:  lyding daag hulle uit om iets te erken wat hulle nog altyd ontken het – dit kan met enigeen van ons te enige tyd gebeur.
  • Inploffing – intense pyn lei onvermydelik daartoe dat ek op myself fokus. Ek kan aan niks anders dink nie. Ons word so in onsself ingetrek dat ons nie bewus is van wat om ons besig is om te gebeur nie. Al wat van belang is, is ek en my behoeftes. Dit is my enigste werklikheid – al die ander is vaag en onbelangrik. Ek kan nie liefde gee of ontvang of voel nie. Dit lyk vir my asof God afwesig is.
  • Veroordeling – lyding kan my verhard en moedeloos maak, want ek voel ek word gestraf. Ek kyk rond en dink aan alles wat ek verkeerd gedoen het … en dit is nie moeilik om iets te kry nie. Lyding maak my bewus van my foute en my kwesbaarheid.
  • Ek word kwaad – dit word op verskillende voorwerpe gerig. Ek kan kwaad wees vir myself of ander wat my benadeel het of in die steek gelaat het. Ek kan ook vir God kwaad word as ook die lewe wat my nie regverdig behandel het nie.
  • Ek word ‘n medepligtige – ek word gemaklik in my ongemak, tevrede met my toestand. Dit is sleg, want nou soek ek nie na ‘n oplossing vir my probleme nie. Ek raak aan my selfbejammering verslaaf. Nou word my lyding ‘n verskoning vir alle soorte gedrag wat ek andersins nooit sou kon regverdig nie.

Al vyf hierdie reaksies is gewoonlik in ‘n wisselende mate teenwoordig. Dit word bepaal deur  die omstandighede, my temperament. Mense van verskillende persoonlikhede, geslagte en kulture reageer ook verskillend op lyding. Ons kan dus dieselfde probleem kry wat verskillende reaksies by verskillende mense uitlok.