Naäman

To abandon prayer is to embrace atheism. —Alec Motyer

 

Naäman

Ons kry die verhaal van Naäman in 2 Konings 5:1 – 16. Naäman was ‘n belangrike man. Hy was ‘n groot en trotse man – die bekendste generaal in Aram. Maar hy het melaats geword. Die siekte sou hom sy posisie ontneem – hy sou uit die samelewing geban word. Daar was geen genesing nie. Hierdie diagnose vernietig lewens.

 

In Naäman se huishouding was ‘n jong dogtertjie wat uit Israel ontvoer is. Die laagste in die huishouding. Naäman is desperaat en daarom luister hy na haar. Die meisie se geloof in die God van Elisa is groot. Hoe vernederend om na ‘n vyand te luister en dan nog na ‘n vyand te gaan vir hulp. Maar Naäman gaan.

 

Maar in plaas van die profeet self te sien, moet die trotse Naäman ‘n boodskapper sien – asof sy melaatsheid nie voldoende vernedering was nie. Die boodskapper sê dat Naäman hom in die Jordaan moet gaan was. Die riviere in sy land was veel beter as die Jordaan. Sy amptenare pleit by hom. Uiteindelik gaan was hy hom in die Jordaan en word genees.

 

Wat leer ons uit hierdie storie?

As Jy nie ‘n gelowige is nie

Elkeen van ons glo dat ons weet wat reg is, maar diep binne in ons weet ons dat dit nie waar is nie. Wat verkeerd is, is sonde. Nou probeer ons allerhande maniere om van die sonde en sy gevolge ontslae te raak – sonder sukses. Jesus sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader  toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6).

 

Is  die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?  Nee, God het ‘n pad gemaak om gereinig te word – net een pad. Vir Naäman klink dit na dwaasheid. Mense kan alle maniere probeer om rein te word –Mohammed. Bhoeddha … Maar God het ‘n eksklusiewe pad gemaak – Jesus. Die lewende, genesende water is net by Hom te vinde.

 

God mag jou vra om jou trots in jou sak te steek en na een van daardie Christene wat jy so haat, te luister. Die boodskap van genesing en lewe kom dikwels van iemand wat jy normaalweg verontagsaam. Moenie dat ‘n meerderwaardige gesindheid jou verhinder om jouself te verneder om te doen wat jou sal red.

 

As jy ‘n gelowige is

Israel was vol melaatses, maar hulle is nie genees nie. God genees hier ‘n vyand van Israel. God soek diegene wat Hom sal glo – al moet Hy buite die grense van die kerk gaan om hom te vind. Moenie dink omdat jy binnekant is jy nie as buitestaander  beskou kan word nie. Naäman luister na ‘n jong dogtertjie. Hy doen wat hy beveel word al klink dit nie vir hom rasioneel nie. God werk in die lewens van mense wat Hom vertrou. Hy gebruik die laagste van die laagste om met die hoogste te praat.

 

Wees versigtig na wie jy luister. Wees versigtig hoe jy reageer. Selfs Christene sal ‘n onvoldoende rivier verdedig as hulle op hulle eie wysheid vertrou Ons moet ook die storie verder lees. Gehasi, Elisa se dienaar, het sekerlik baie wonderwerke gesien. Tog het hy nie geloof nie. Die wêreld is vol Gehasi’s. Ons moenie sommer aanvaar dat ons beter as hy is nie.

 

God het ‘n pad in Jesus gemaak. Net een pad. Kom, verneder jouself en word rein.