Nabootsing van God

image_pdfimage_print

 What counts in life is not the mere fact that we have lived. It is what difference we have made to the lives of others that will determine the significance of the life we lead – Nelson Mandela

 

Nabootsing van God

Imitatio dei [Latyn imitat, imitari = kopieer] is een van die pilare van Bybelse etiek – in beide Nuwe en Ou Testamente. Die Here roep mense op om heilig soos Hy te wees: Wees heilig, want Ek is heilig (Levitikus 11:44; 19:2; 20:7; 1 Petrus 1:16).

 

In Deuteronomium 10 roep Moses vir Israel op om die Here se deernis na te volg. Net soos die Here deernis met die weduwee, die wese en die vreemdeling het, moet sy mense hierdie beginsel toepas. Jesus pas hierdie beginsel toe as Hy sy dissipels oproep om mekaar lief te hê net soos Hy hulle liefhet:  Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê (Johannes 13:34;  basies dieselfde in Johannes 15:12)

Johannes daag sy lesers uit om mekaar lief te hê,  omdat Christus ons daartoe beveel het: En dit is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het  (1 Johannes 3:23). Dit is egter nie die enigste rede om mekaar lief te hê nie – ook omdat God Hom aan ons toegewy het: Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê (1 Johannes 4:11). Die liefde wat gelowiges bewys, is die bewys dat God in hulle woon: Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God (1 Johannes 4:7); Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volkome sy doel bereik (1 Johannes 4:12).

Hoe kan ek God se deernis vir mense naboots? Liefde … liefde vir my vyande, liefde vir dié wat op die rant van die samelewing leef … maar veral liefde vir God.

image_pdfimage_print