NEHEMIA – DELEGERING (2)

The infinite abyss can be filled only with an infinite and immutable object: in other words by God himself – Blaise Pascall (Pensées)

 

Nehemia – Delegering (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #7: Delegering … stel jou leierskap vry

 

Delegering in die NT

 

  • Jesus, die meester van delegering. Jesus het besef dat sy aardse bediening nie baie jare gaan duur nie. Voor Hy na die hemel terugkeer, moet Hy ander voorberei om die taak wat hy begin het verder te voer. Daarom kies en onderrig Hy twaalf dissipels. Net voor sy hemelvaart gee Hy aan hulle sy groot opdrag (Matteus 28:19 – 20).
  • Paulus. In die Nuwe Testamentiese kerk is take gedelegeer. Lees net weer Efesiërs 4:11 – 12 waar sekere ampte beskryf word. As jy ‘n leier is, moet jy ander toerus om te lei. As jy ‘n volgeling is, moet jy jou eie gawes ontwikkel sodat diegene in ‘n posisie van leierskap take na jou kan delegeer volgens jou gawes.
  • Delegering by die huis. Mans  moet hulle vrouens vertrou; hulle moet hulle kinders oplei om self sekere take te verrig.

 

Begin die onmoontlike taak

Hoe pak jy so ‘n enorme taak aan? Nehemia se plan en die uitvoering daarvan kry ons in Hoofstuk 3. As jy iemand motiveer, skep jy ‘n begeerte by hom; as jy delegeer, wys jy die rigting aan. Ons lees gereeld hier van die volgende. Elke paragraaf fokus op een van die tien poorte van die stad – soos die Skaappoort en die Vispoort. Hy stel 42 spanne aan. Kom ons kyk na Nehemia se delegering:

  • Take word volgens beroepe uitgedeel. Heel eerste word die hoëpriester en sy priesters genoem. Hulle werk by die Skaappoort. Hierdie poort was die naaste aan die tempelterrein. Ons lees ook van handelaars en goudsmede.
  • Take word ook aan nie-inwoners gegee. Mans van Jerigo, Tekoa, Gibeon en Mispa is ook gebruik by daardie gedeeltes van die muur waar daar min huise was. Geen wonder ons lees: Die mense se hart was in die werk (4:6).

 

Hoe het Nehemia te werk gegaan om te delegeer?

  • Bepaal die taak. Jy kan nie al jou verantwoordelikhede delegeer nie. Kies daardie take wat ander suksesvol kan afhandel.
  • Bepaal die pligte. Evalueer elke taak en bepaal watter vermoëns, opleiding en gawes benodig word. Kan jy die taak vir een persoon gee of moet jy dit vir ‘n span gee? Moet jy spesifieke mense aan spesifieke take toewys?
  • Kies die leierskap. Kies die persoon wie se vermoëns, opleiding, ondervinding en gawes die beste inpas om die taak te voltooi. Hy is die verantwoordelike persoon en hy moet verseker dat die ander die taak voltooi. Vir elke gedeelte van die muur word ‘n spesifieke naam genoem.
  • Onderrig jou leiers. Jy moet jou mense motiveer, maar ook toerus vir die taak.
  • Gee rigting aan die leiers. Gee aan hulle ‘n duidelike prentjie van jou visie. Identifiseer spesifieke datums wanneer jy terugvoer verlang.
  • Gee aan die leiers die nodige gesag. Nadat die leiers toegerus is en nadat Nehemia hulle verseker het dat hulle die koning se ondersteuning het, en nadat hy hulle van die nodige voorrade voorsien het, het hulle beheer oorgeneem en die verantwoordelikhede wat aan hulle opgedra is uitgevoer.
  • Vertrou die leiers. Moedig hulle aan om onafhanklik op te tree.
  • Evalueer die proses. Is enige aanpassings nodig? Bemoedig. Prys. Ondersteun. Identifiseer hoe jy sukses gaan meet. In Nehemia se geval was dit voltooiing van die mure binne 52 dae.

 

Daar is altyd mense wat jou probeer ontmoedig. Hoe hanteer jy dit?