NEHEMIA – DELEGERING (3)

Only two kinds of people are reasonable: those who, knowing God, serve Him with their whole heart; and those, not knowing Him, seek Him with their whole heart – Blaise Pascal (Pensées)

 

 

Nehemia – Delegering (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #8: Delegering … Bemoediging … ondersteun jou leierskap

Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie (4:11)

Ten spyte van die voortdurende bedreigings bly die mense gefokus en hou aan met die bouwerk.

Hoe sou Nehemia keer dat hulle as gevolg van al die bedreigings ontmoedig word? Hy kan bid vir God se beskerming; hy kan seker maak dat sy mense en sy vyande hom gereeld sien. Toe die vyand sien dat die werk vorder, neem hulle vyandigheid toe. Eers spot hulle: Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as ‘n jakkals daarteen spring!  (4:2 – 3) Daarna beplan hulle ‘n aanval: Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te saai (4:7 – 8).

 

Ontmoediging

Jy kan nie voortdurend dreigemente en negatiewe dinge hoor sonder dat dit jou raak nie. Ontmoediging is een van die grootste vyande van vooruitgang. Dieselfde gebeur hier: Die Judeërs het begin kla (4:10). Hoekom word hulle so ontmoedig?

  • Uitputting. Die draers se kragte gee in, die puin is te veel. Die lang werksure het hulle uitgeput. As jy fisies moeg is, is jy meer geneig om terneergedruk te wees – jy verloor moed. Fatigue makes cowards of all of us (Vince Lombardi).
  • Verloor entoesiasme. Die puin is te veel (4:10). Hulle aanvanklike ywer neem af; hulle begin kla. Die puin is nie die probleem nie, maar hulle gesindheid is wel.
  • Verloor hulle visie. Ons gaan die nie regkry om die muur klaar te bou nie (4:10). Aanvanklik het Nehemia hulle oortuig dat hul die onmoontlike gaan regkry. Met verloop van tyd vervaag die visie. As dit gebeur, lei dit tot wanhoop en ‘n gevoel van hopeloosheid. Hierdie negatiewe gevoel het baie name – soos uitbranding. Hierdie mense sien nie meer die voltooide muur nie – al wat hulle sien is die puin.
  • Verlies aan optimisme. Hulle hoor die negatiewe opmerkings van die vyande. Dit is moeilik om optimisties te bly as jy deur negatiwiteit omring word. Hulle hoor die gerugte van ‘n dreigende aanval. Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie (4:11). Jy kan natuurlik probeer om negatiewe persone te vermy. ‘n Positiewe gesindheid is aansteeklik – omring jou met positiewe mense.
  • Verlies aan vertroue. Moenie vir hulle bang wees nie (4:14). Vir 90 jaar leef hulle in vrees. Toe kom Nehemia en verlig hulle vrese. Hulle begin werk aan die muur met volle vertroue dat God hulle sal beskerm. Nou vergeet hulle van God en sy vermoë om hulle te beskerm. Hulle oë is nie meer op God gerig nie, maar op die gevaarlike situasie om hulle.
  • Verlies aan motivering. Al die negatiewe kragte om hulle veroorsaak wanhoop by die bouers. Hulle is terug waar hulle begin het. Nehemia staan op die punt om beheer oor die situasie te verloor.

 

Hanteer ontmoediging

By Nehemia kry ons ‘n goeie model. Onthou dat ontmoediging almal kan raak – dit is aansteeklik en versprei maklik. Vir die individu is ontmoediging verlammend; vir ‘n leier is dit dodelik. Daarom moet dit so vroeg as moontlik hanteer word. Hoe kan ons dit doen?

  1. 1.Herken die bron. Jy sal dikwels met druk gekonfronteer word wat jou mag ontmoedig. Die duiwel is maar te bly as ons nie meer deel van die spel is nie. Die probleem lê nie by God nie, maar by ons – ons het onsself verlam.
  2. 2.Weerstaan die versoeking. Dit is maklik om negatiewe gedagtes te dink – jy sien al die puin en jy word deur die taak ontmoedig. Jy begin dink dat die taak nooit voltooi sal word nie. Wat sê Jakobus moet ons doen? Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug (4:7).
  3. 3.Herstel jou verhouding. Het jy jou oë van jou Verlosser afgewend? Onderwerp julle dan aan God (Jakobus 4:7). Jy trek jou krag om te lei by die Here. As daardie verhouding vertroebel is, beïnvloed dit jou vertroue en vasberadenheid op ‘n negatiewe wyse. ‘n Wyse leier bly naby aan God.
  4. 4.Verwyder diegene wat vertwyfeling saai. As onregverdige negativisme versprei word, moet jy dit hanteer. Vra positiewe menings en oplossings vir alle probleme – probleme is geleenthede wat wag om opgelos te word.
  5. 5.Onthou jou krag. Christus se krag werk in en deur gelowiges. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13). Jy mag ook nie die mag van jou mense onderskat nie. Jou krag is groot as jy nie jou mense se mag en hulle vermoë om by te dra beperk nie.
  6. 6.Herfokus. Het jy dalk vergeet van jou doelwitte en rigting? Gaan terug na die begin van die projek. Jy het sekerlik vir God by jou oorspronklike plan betrek. Hou aan glo en werk met entoesiasme voort.
  7. 7.Reageer op die aanmoediging van ander. Diegene naby jou kom gou agter as jy moedeloos is. ‘n Wyse leier ken sy eie beperkings en laat ander toe om hom te help. Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:13)

 

‘n Goeie leier behou die hoop deur woorde van bemoediging en werke wat jou mense ondersteun. Jou positiewe gesindheid beïnvloed altyd die mense om jou.