NEHEMIA – INTEGRITEIT (2)

Blog32e

“Give me one hundred preachers who fear nothing but sin and desire nothing but God, and I care not whether they be clergymen or laymen, they alone will shake the gates of Hell and set up the kingdom of Heaven upon Earth.” ~ John Wesley

 

 

Nehemia – Integriteit (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #14:  Integriteit … bekragtig jou leierskap

Kom ons kyk na Nehemia. Nehemia se tyd in Juda was ‘n liefdesdiens vir sy mense. Dit was sy bekommernis oor die welstand van sy mense wat hom na Jerusalem  toe getrek het.

Hy dien nie as goewerneur omdat hy ‘n goeie inkomste kry nie – die bou van die muur en die welstand van sy mense was sy hoogste prioriteit – nie sy persoonlike belange en gemak nie. Hy stel ‘n voorbeeld vir sy mense. Hoe lyk so ‘n persoon?

  • Hy is onselfsugtig – hy maak nie aanspraak op sy goewerneurstoelae nie (5:14). Natuurlik was Nehemia as gevolg van sy werk in die paleis nie arm nie, maar hy begeer nie om sy eie rykdom ten koste van ander uit te brei nie.
  • Hy is sensitief – hy was lank in die openbare diens – hy ken magsmisbruik. Maar hy is sensitief vir die behoeftes van ander. Die vroeëre goewerneurs, almal voor my, het swaar eise aan die volk gestel. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog vier honderd en sestig gram silwer geëis. Hulle amptenare het ook baas gespeel oor die volk. Ek het nie so gemaak nie, uit eerbied vir God (5:15).
  • Hy was ‘n dienaar. Hy het gesag oor die mense gehad – hy was die goewerneur. Maar hy en sy amptenare werk langs die burgers op die muur. ‘n Dienaar dien – hy maak nie sy sakke vol ten koste van ander nie. Ek het my volle gewig ingegooi by die werk aan hierdie muur, ek het nie lande gekoop nie, en al my werkers was hier by die werk saamgetrek (5:17).
  • Hy het opgeoffer – geen spesiale voorregte nie al was hy die goewerneur. Elke dag voed hy 150 mense  uit sy eie sak: Daar moes elke dag ‘n bees, ses slagskape en ‘n klomp voëls vir my gaargemaak word, en om die tien dae moes daar ‘n groot hoeveelheid wyn vir die menigte kom (5:17 – 18). Tog eis hy nie sy toelae nie.
  • Hy soek net die goeie – net die lof van God – nie dié van mense nie. Hy bid dat God die goed wat hy gedoen het, sal onthou. Onthou tog, my God, tot my voordeel, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het (5:19).

 

Integriteit is ‘n hartsaak:Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Lukas 6:45). Jy is of ‘n man van integriteit of jy is nie – geen middeweg nie. Hoe kan ek met integriteit leef?

Stap #1: Besef die waarde van integriteit. Integriteit definieer wie jy as leier is; dit rig jou optrede; dit laat jou langs die regte pad – God se pad – loop.

Stap #2: Kies en gebruik die waarhede van die Skrif as die standaard van jou integriteit.

Stap #3: Ondersoek jou hart. Net God kan vir jou ‘n korrekte lesing oor die toestand van jou hart gee: Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? (Jeremia 17:9). Daarom moet ons soos die psalmis uitroep: Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur. Ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou (26:2 – 3).

Stap #4: Evalueer jou daaglikse besluite. Kyk na elke besluit en beoordeel dit op grond van die waarhede in die Skrif. Soos Dawid moet ons bid: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser (Psalm 19:15).

 

Integriteit moet die kern van ons wese wees. Ons moet ons harte vir God open sodat Hy ons deur sy woord kan vorm. Onthou: Integriteit word nie aan ons gegee nie – dit is die gevolg van die meedoënlose najaag van eerlikheid te alle tye.

 

Hiermee kom ons aan die einde van hierdie reeks oor Nehemia en leierskap.