NEHEMIA – KRISISBESTUUR (1)

—David Livingstone

  

Nehemia – Krisisbestuur (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Tot dusver het ons na sekere agtergrondinligting van Nehemia as leier gekyk. Nou gaan ons kyk na sekere kenmerke van leiers

 

 

Kenmerk #1: Krisisbestuur … bring jou leierskap uit

Ganani, een van my medeamptenare, het daar aangekom uit Juda, hy en ‘n paar ander manne. Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit ballingskap vrygelaat is en teruggegaan het, en oor Jerusalem (1:2).

 

Nehemia doen sy dagtake in die paleis van Artasasta, die gevreesde koning van Persië. Hy kry ‘n boodskap dat Ganani uit Jerusalem daar aangekom het. Dertien jaar tevore het hulle mekaar laas gesien. Nehemia was angstig om te hoor hoe dit met God se mense gaan en wat die toestand van Jerusalem was. Vir 13 jaar het hy vir sy mense en die stad gebid.

 

Die aankoms van Ganani en sy mense is die aankoms van ‘n krisis – ‘n keerpunt is Nehemia se lewe.  ‘n Krisis kan fisies, verstandelik, geestelik of emosioneel wees. Die probleem is nie die saak nie, maar hoe jy as persoon (veral as leier) hierdie krisis hanteer. Hoe hanteer jy ‘n krisis? Jy het ‘n paar keuses: jy kan weghardloop; jy kan dit vermy; jy kan dit ignoreer; jy kan dit deflekteer

 

Daar is ook diegene wat positief in ‘n krisis reageer – hulle aanvaar dit; hulle hanteer dit; hulle gebruik dit; hulle leer daaruit; hulle groei as gevolg van die krisis. When written in Chinese the word crisis is composed of two characters. One represents danger and the other represents opportunity (John F. Kennedy). Hoe sien jy ‘n krisis – ‘n gevaar of ‘n geleentheid?

 

Nehemia staan voor ‘n krisis. Hy werk vir ‘n magtige heerser van ‘n heidense ryk; hy het ‘n goeie werk; die koning vertrou hom; hy woon in die koning se paleis. Hoekom sal hy nou sy werk in gevaar stel? Hoekom sal hy nou by Jerusalem se probleme betrokke raak? Maar Nehemia is besorg oor sy mense en hulle stryd. Wat moet hy doen? Hoe gaan hy reageer? Wie gaan hy eerste stel – sy werk of sy mense in Jerusalem?