NEHEMIA – LOJALITEIT (1)

Peace and rest belong not to the unregenerate, they are the peculiar possession of the Lord’s people, and of them only. The God of Peace gives perfect peace to those whose hearts are stayed upon him. —  C.H. Spurgeon

 

Nehemia – Lojaliteit (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #13:  Lojaliteit … Bevestig jou leierskap

Ek was nie in Jerusalem toe dit alles gebeur het nie, want in die twee en dertigste regeringsjaar van koning Artasasta van Babel is ek terug na die koning toe (Nehemia 13:6)

 

Vir Nehemia moes dit ‘n bittersoet afskeid gewees het. Hy kom as vreemdeling in Jerusalem aan, maar hy verlaat Jerusalem as held en vriend. Hy laat vriende en lojale ondersteuners agter. Plig roep Nehemia terug na die koning.

 

Lojaliteit begin by vertroue

Lojaliteit is ‘n uitdrukking van toewyding, standvastigheid en trou. As ‘n individu glo dat hy sy leier kan vertrou om hom te lei, sal hy lojaal wees. Alle mense het lojaliteite – hulle plaas hulle vertroue in iemand of in iets. Daarom moet lojaliteit by God begin. Ons kan lojaal aan God wees, want:

  • Ons kan op sy karakter vertrou. Hy is die God wat sy woord hou (Titus 1:2). Daar is duisende beloftes in die Bybel. Salomo sê: Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie (1 Konings 8:56). Omdat God lojaal aan sy beloftes is, kan ons op Hom vertrou.
  • Ons kan op sy teenwoordigheid vertrou. Omdat ons Hom nie kan sien nie, is dit soms moeilik vir ons om te aanvaar dat Hy teenwoordig is. Dink net terug aan Josua. Sy eerste opdrag as nuwe leier was om land wat goed verdedig is, in te neem. Maar God sê vir hom: Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie; want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Josua 1:9). God se teenwoordigheid stel ons gerus en versterk ons. Ons het geen verdere ondersteuning nodig nie. Hierdie belofte van God geld steeds vir ons: En Onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20).
  • Ons kan vertrou dat Hy ons gebede sal antwoord. Jesus self belowe: Vra, en vir julle sal gegee word; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word (Matteus 7:7 – 8). Dit gebeur selfs al weet ons nie altyd hoe om te bid nie – dan bid die Heilige Gees vir ons (Romeine 8:26). Ons kan God vertrou met die klein dinge in ons lewens en met die allergrootste in ons lewe – ons ewige bestemming.
  • Ons kan op God se aanbod van die ewige lewe vertrou. Hoekom het Jesus aarde toe gekom? Om vir ons sondes te sterf en aan ons die ewige lewe aan te bied. Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10). In Johannes 10:28 sê Jesus: Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit velore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

 

As ons ons geloof en vertroue in Jesus Christus plaas, belowe Hy vir ons die ewige lewe. Besef ons dat ons God vir alles – insluitende ons ewige bestemming – kan vertrou? Dan moet ons mos lojaal aan Hom wees.

 

Volgende keer bespreek ons leierskap en lojaliteit verder.